
Sover bekend is daar nie boeremusiek of rock ’n roll in Vlei Park nie, maar wel baie seks, drugs en ontlasting.
“Dit word by die dag erger,” sê Yollanda Mitchell, ’n inwoner van Oakdale, waar die park in Kingsmead-laan geleë is.
“Dit is van dwelms tot seks tot toilette. Party mense kan nie eens hul vensters oopmaak nie omdat dit so baie stink.”
Boonop kan baie inwoners nie uit hul vensters kyk nie, want mense is gedurig met hierdie aktiwiteite daar besig.
TygerBurger is ook in besit van verskeie grafiese foto’s wat die situasie uitbeeld.
Mitchell sê hierdie probleem gebeur ook wanneer skoolkinders daar naby verbystap.
Hulle het die saak al herhaaldelik by die Stad Kaapstad aangemeld en bel ook aanhoudend die metropolisie.
“Partykeer kom hulle drie dae later hierheen en partykeer daag hulle nie eens op nie.”
Dit is ’n aanhoudende gebaklei, sê sy.
“Dis net af.”
’n Groep inwoners het al voorgestel hulle skort die park af en sluit dit, maar dit is ook ’n doodloopstraat, sê sy.
Saak word bespreek
Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, het by navraag gesê die Stad is bewus van die kwessie.
“Die saak word met die raadslid en metropolisie bespreek.”
Sy sê hulle kyk ook na die moontlikheid om die park af te kamp en na ure te sluit, maar sê dit word vanuit ’n “praktiese en finansiële punt” gedoen.
Wayne Dyason, woordvoerder van die metropolisie, sê hulle kan eers optree wanneer iemand hulle bel en oortreders is dikwels weg teen die tyd dat hulle daar aankom.
“Ons het nodig dat klaers soveel moontlik inligting kry, soos registrasienommers, as daar karre is of verklarings deur ooggetuies, indien daar individue betrokke is. Hulle moet aktief saam met ons werk.”