
Toe die Wes-Kaapse onderwysdepartement besluit het om nie meer leerders op strande toe te laat nie, het dit nie die Laerskool Silversands se bestuur in sak en as laat sit nie.
Volgens Marshall Cupido, skoolhoof, was een van hul groot insamelingsprojekte die pretloop op die strand.
“Dit was nogal lekker om saam met die kinders op die strand te stap en die natuurskoon te waardeer. So ’n pretloop was ook baie leersaam,” sê Cupido.
Die teleurstelling was egter van korte duur, want Cupido en die res van die skool se bestuur het besluit om hul pretloop met ’n kaskardag te vervang.
“Ek was geskok oor hoe groot die belangstelling in die kaskardag was. Van die meer as 1 300 leerders het meer as 700 aan die kaskardag deelgeneem.
“Dit was nou een groot dag van pret en plesier en die leerders het dit terdeë geniet. Van die onderwysers was ook dapper genoeg om hul kanse op die kaskarre te waag,” sê hy.
Hy sê hulle beoog om volgende jaar groter en beter te gaan met die kaskarkaskenades.
“Die leerders wat nie vanjaar betrokke was nie, gaan beslis volgende jaar by ons aansluit, want dit gaan nou ’n jaarlikse instelling word,” sê Cupido.