
Van die 23 “tentbewoners” wat ’n openbare stuk grond in Baxterlaan in Durbanville byna drie jaar lank onwettig beset het, is altesame 17 na veilige plekke of skuilings geneem óf met hul families herenig, het die Stad Kaapstad by navraag gesê.
Die Durbanville-gemeenskap het verlede Dinsdag ’n sug van verligting geslaak nadat die oorblywende onwettige besetters, hul tente en rommel deur die Stad verwyder is.
Verskeie inwoners het die uitsetting gade geslaan nadat die balju omstreeks 10:00 met die uitvoer van die uitsettingsbevel begin het.
Dit het gekom nadat die onwettige besetters kans tot 6 Januarie gegee is om self die perseel te ontruim nadat ’n uitgerekte proses oor maande daartoe gelei het dat die Wes-Kaapse hooggeregshof ’n finale uitsettingsbevel aan die Stad toegestaan het.
Die hofbevel sluit ook ’n staande bevel in teen enige verdere onwettige besetting van die stuk grond in Baxterlaan, asook die onwettige besetting van meer as 20 ander openbare erwe in Durbanville wat in die bevel aangedui word.
Indien enige van die besetters nuwe strukture elders oprig, mag dit deur die Stad se wetstoepassingsdepartement verwyder word.
“Die Stad se wetstoepassingsdepartement mag ook help om besetters te keer om private grond te beset,” lui die Stad se verklaring.
Ook die polisie is gemagtig om onwettige besetters te verhoed om strukture op te rig, en hulle en hul besittings te verwyder.
Volgens ’n mediaverklaring deur die Stad is maatskaplike bystand en waardige skuilings by nagskuilings van nie-regeringsorganisasies en veilige plekke van die Stad steeds aan die besetters deur die Stad se departement vir maatskaplike ontwikkeling en vroeëkinderontwikkeling gebied, óók op die dag van die uitsetting.
“Hierdie fasiliteite bied maatskaplike programme aan om mense te help om volhoubaar van die strate te kom, hulle weer in die samelewing te integreer of met hul gesinne te herenig,” lui die verklaring.
Die programme sluit persoonlike ontwikkelingsbeplanning en werksgeleenthede, asook verwysings vir sielkundige, mediese en substansafhanklikheidsbehandeling in.
Op die dag van die uitsetting het verskeie van die besetters aanbiedinge van oorgangskuilings aanvaar en is van die besetters ook met hul families herenig.
“Die Stad se eenheid vir straatmense (Displaced People’s Unit) het 10 besetters hervestig, MES vier en die Stad se departement vir maatskaplike ontwikkeling drie.
“Die besetters wat uiteindelik uitgesit is, het alle aanbiedinge van maatskaplike hulp oor tyd van die hand gewys en het die perseel op hul eie verlaat,” lui die verklaring.
Die Stad beplan om R142 miljoen in die volgende drie jaar te spandeer om veilige plekke uit te brei na buite die stadskom en Bellville – onder meer ook na Durbanville.
)Meld enige pogings om strukture op te rig aan by die Stad by 021 480 7700.