
Die lewe van ’n tiener van Bellville-Suid het binne ’n oogwink verander nadat hy in November ’n aanbod gekry het om vanjaar met ’n volle beurs by ’n toonaangewende en peperduur skool in Pietermaritzburg skool te gaan.
Die tiener, Bentley Stoffels (16), het gister agter die skoolbanke by Hilton College ingeskuif – honderde kilometer weg van die huis en die eerste keer in jare wat hy by ’n hoofstroomskool inskakel. Boonop is dit saam met kinders wat aan geld gewoond is – skoolgeld by dié skool is die hoogste in Suid-Afrika, met een jaar s’n wat R369 920 beloop.
Maar Bentley, wat tot onlangs ’n leerder aan die Westcliff-vaardigheidskool was, sê hy sien kans vir die uitdaging, veral as dit beteken hy kan rugby speel.
“Dis ’n voorreg om van Bellville-Suid na Hilton College te gaan,” sê Bentley.
“Ek gaan my familie mis en ek’s baie excited om daarheen te gaan. Ek wil net die beste vir myself doen.”
Sy pad met Hilton het begin toe hy verlede jaar ’n wedstryd bygewoon het van sy jonger broer, King (12), wat vir WP se o.12-span uitdraf. ‘n Talentsoeker het hom daardie dag by Rondebosch Boys’ High School langs King sien staan en begin gesels. Kort voor lank het Hilton se verteenwoordigers sy afrigters en ander gebel om agtergrondinligting te kry.
Hulle het ook aanlyn na skoolwedstryde gekyk om te sien hoe hy speel voordat hulle hom genooi het.
Die skool het vir sy vlugte betaal, asook vir sy pa, Allistar, ma, Madelyn, broer, King Carter (12) en suster, Aaliyah (5). Sy ouer broer, Shaun D. Fortuin (22), het nie saamgevlieg nie. En toe sy voete eers daai veld by die kollege tref, was die skoot hoog deur. Hilton College móés hom net by die skool hê.
Hulle het geweet ’n aanbod gaan iewers kom, verduidelik Allistar, maar het nie gedink dit sou verlede jaar gebeur nie. Voorheen het Allistar se foon konstant gelui as daar ’n rugbykliniek is met skole wat in hom belangstel. Maar verlede jaar het Bentley ’n kiem op sy longe gehad en sowat 9 kg verloor. “Toe hy gesond raak, toe is die seisoen amper op sy einde.”
Agterstand
Allistar sê hulle’t eers Bentley se mentor en afrigter, Graeme O’ Leary, genader. Bentley speel skrumskakel, losskakel en senter vir die Westcliff-vaardigheidskool se rugbyspan, maar speel ook al jare vir die Hoërskool Bellville se A-spanne.
Sy gesin was bekommerd daaroor om hom na ’n hoofstroomskool te stuur. O’ Leary, wat ook Bentley se wiskunde-onderwyser is, was in die wolke en het gedink hy sal die struikelblokke kan oorkom.
Hy het dit dan juis tot op hierdie punt gemaak, ten spyte van geweldige epileptiese aanvalle wat hy as kind beleef het. Die gesin het ook lank finansieel gesukkel. Omstandighede bepaal nie jou toekoms nie, sê Allistar. Sy kind het ’n goeie ondersteuningstelsel en hulle voel die Here se hulp het alles moontlik gemaak.
Annette Absalon, wat jare lank vir Bentley leerondersteuning gegee het, sê toe hy in gr. 2 aan Bellville-Suid Primêr was, het sy opgelet hoe leergierig hy is.
“Hy was ’n baie gehoorsame en aangename seun met ’n positiewe ingesteldheid wat nie net sy opvoeders nie, maar ook sy maats gerespekteer het. Hy was een van my beste leerondersteuningsleerders.”