
Hoe pas jy ná skool aan as jy as een van die topmatrieks in die Wes-Kaap aangewys is?
Vir Alise Smit (18) is die “grootmenslewe” nog ’n uitdaging waaraan sy gewoond raak, maar een wat sy nietemin baie geniet.
“Ek geniet die universiteitslewe, al raak ek nog gewoond aan die nuwe omgewing, nuwe rooster en nuwe mense,” sê sy van Stellenbosch, waar sy aktuariële wetenskap studeer.
Smit, wat in die Hoërskool Bellville was, het verlede jaar vierde in die Wes-Kaap met haar matriekpunte geëindig toe sy ’n gemiddelde van 97,1% behaal het. Die ranglys is vroeër vanjaar by die premierswoning Leeuwenhof bekend gemaak.
“Ek was baie verbaas,” sê sy oor die oomblik toe sy gehoor het hoe goed sy gevaar het.
“Ek het gehoop om goed te presteer, maar dit het al my verwagtinge oortref. Ek voel baie dankbaar en geseënd vir dit wat ek kon bereik.”
Sy het agt A’s gekry – in rekeningkunde (99%), lewenswetenskappe (98%), fisiese wetenskappe (98%), wiskunde (98%), verdere studies wiskunde (IEB, 97%), Engels Addisionele Taal (97%), Afrikaans (93%) en lewensoriëntering (97%).
Al het sy 98% daarvoor gekry, sê sy biologie was die moeilikste omdat daar baie memoriseerwerk was.
Beplanning
’n Groot bestanddeel van haar suksesresep was beplanning. “Ek het probeer om deur die jaar goed te beplan en spesifieke tye uit te sit vir skoolwerk en leer, sodat ek dan ook tyd vir ander aktiwiteite saam met vriende oorgehad het.”
Rekeningkunde en wiskunde was haar gunstelingvakke op skool en op die ou end moes sy tussen die twee as ’n beroep kies. Haar ma, Mariet, werk self as ’n aktuariële konsultant by Sanlam, en dit het haar van kleins af bewus gemaak van die beroep.
“Ek dink dit is ’n rigting wat ek baie sal geniet.”
Die Smitte bly in Brackenfell en haar pa, Jaco, is ’n hoërskoolonderwyser in besigheidstudies en landbou by die Privaatskool Melkbosstrand. Haar broer, Heinie (16), is in gr. 11 by die Hoërskool Bellville. Alise was in die Laerskool Bastion.
Deesdae weet meestal net haar vriende, familie en kennisse van haar prestasie, maar dit maak nie eintlik vir haar saak of iemand daarvan uitvind nie.
“Dit motiveer my net om op universiteit ook hard te werk en my beste te gee.”