
’n Warm, sonskyn-Maandag het op 5 Februarie 2007 gou in ’n yskoue, potblou Maandag in Eersterivier verander toe Deon Beukes sy vuurwapen op sy vrou, hul kinders en homself leegmaak.
Amanda Beukes het ná amper twee dekades met TygerBurger gesels oor wat regtig daardie dag gebeur het, sowel as hoe sy tot vergifnis gekom het.
Amanda het op 28 Januarie ’n grafsteen met mooi groot hartvorms vir Deon en hul twee kinders, Alexandra en Carlos, onthul.
Maar hoe doen jy dit as die man wat daar lê, verantwoordelik was vir soveel pyn, lyding en die dood van jou kinders?
“Vergifnis het ’n redelike tyd geverg,” sê sy.
“Ek was eers baie kwaad – ek was kwaad vir Deon; ek was kwaad vir myself; ek was kwaad vir sy ouers. Maar om kwaad met kwaad te vergelyk, het my nêrens gebring nie.”
Amanda vertel sy het Deon ontmoet toe sy nog op hoërskool was.
“Hy het my sommer op daardie eerste dag al gevra om sy meisie te wees. Dit was love at first sight,” onthou Amanda.
“Al waaraan ek kon dink, was my pa gaan nie gelukkig wees met ’n kêrel nie,” verduidelik Amanda.
Sy het in haar matriekjaar swanger geword met hul eerste kind, Carlos. Dit het haar verhouding met haar ouers baie skade aangedoen.
“My pa was baie ongelukkig en teleurgesteld. Ek het dit nie destyds verstaan nie, maar vandag verstaan ek. Ons het toe Johannesburg toe getrek, getrou en daar gewoon.”
Vir Amanda was dit ’n moeilike tyd.
Sy was alleen, want Deon het dikwels weg van die huis af gewerk. Haar pa het nie met haar gepraat nie en haar skoonouers het haar stief behandel, vertel sy.
Mishandel
Dinge het toe begin verander. Dit het by besitlikheid begin, sê Amanda.
“Eers het ek gedink dis oulik – hy is jaloers; ek moet net syne wees, so hy is lief vir my.”
Dit het egter vererger. Amanda vertel hoe sy een aand saam met familie en vriende gelag en gekuier het toe Deon haar skielik beveel om huis toe te gaan. Sy kan onthou ’n tannie van hom het toe aan haar gesê dit is nie gesond is nie.
Toe begin die slanery.
“Ek moes net doen wat hy sê; ek moes net die vrede bewaar – vir die kinders se onthalwe. Ek dink as ek my mond oopgemaak het om gehoor te word, sou dinge dalk anders gewees het. Ek was al so bang vir my eie man. Hy het gereeld op my gevoelens gespeel.” sê sy.
“Ek sou gereeld sy ma bel en vra wat om te doen,” verduidelik Amanda.
“Ek het later minder sy ma begin bel, want sy het my laat voel ek is sy vrou, so ek moet daarmee deal.”
Volgens Amanda sou Deon gereeld om verskoning vra en dan sê hy weet nie hoekom hy so is nie, maar kort daarna gebeur dieselfde ding weer.
Dit het ná die geboorte van hul dogter, Alexandra, aangehou.
Ná amper sewe jaar in Johannesburg het die gesin Kaap toe getrek waar hulle by Amanda se pa in Eersterivier kom woon het.
Die vorige dag
“Ek het geweet ek sal iets aan my huwelik moet doen. My lewe kon nie so aangaan nie; hy sal my nie ophou seermaak nie,” vertel Amanda.
Sy sê sy het terug in die Kaap, toe sy naby haar familie was, perspektief gekry en toe eers regtig besef dat sy mishandel word.
Sy sê die dag voor die skietery het hy reeds een keer die vuurwapen teen haar kop gedruk.
“Ek het nie vrees gehad nie ... al wat ek gesê het was: ‘En nou?’ ” onthou Amanda.
Sy het net daar besluit om die volgende dag ’n interdik teen hom te kry.
Amanda sê haar seun was baie beskermend en bekommerd oor haar.
“Carlos het nog vir my gesê ek moenie gaan nie, want hy was altyd so bang ‘daddy gaan vir mammie seermaak’.”
Sy het gemeen die kinders is veilig by hom. “Ons het mooi herinneringe ook gehad, al lyk die waarheid nie so nie,” sê Amanda.
Dié Maandag
“Ek het daardie dag van die hof af gekom, maar, die interdik het nie gehelp nie.”
Amanda sê sy was daardie dag baie sterk.
“Ek was vasbeslote – vandag doen ek die regte ding. Jy gaan my nie meer slaan nie, jy gaan nie meer my kinders abuse nie en jy gaan ons nie meer seermaak nie.”
Sy kon dit egter nie in soveel woorde aan hom sê nie. “Ek het gehoop hy sou sê dat hy teruggaan na sy ouers toe. Dan sou ek met hulle gepraat het.”
Op die spesifieke dag het Deon na Amanda se ouerhuis gekom, waar hy die vuurwapen op haar gerig en haar twee keer geskiet het.
“Ek het ’n warm gevoel in my lyf gekry. Ek sou geval het, want ek het gevoel hoe my bene wil insak, maar ek weet net die gees het my opgelig; ek was in ’n slow motion-beweging. Ek het gehardloop en verby hom gehardloop. Hy was nog besig om die vuurwapen toe cork.”
Sy het buite om hulp geskree en mense skuins oorkant die straat het haar daar laat skuil.
“Ek het in hul badkamer agter die deur gaan sit. Toe sien ek ’n lig wat op my skyn. Ek was kalm. Ek wou huil, maar die trane wou nie kom nie. Ek dink dit was die skok. Die bloed het op hul vloer geloop, maar toe ek voel ek kan nou weer opstaan, het ek uitgegaan. Iets het net vir my gesê ‘die kinders!’ ”
Amanda sê sy het gehoor die bure skree hy is winkel toe, maar sy het verward uitgekom en na haar kinders gesoek. Dit het later geblyk Deon het hul seun in die huis geskiet en toe om winkel toe gestap en hul dogter geskiet.
Sy is hospitaal toe geneem en het van daar af almal gebel, op soek na haar kinders.
“Toe bel ek op die landlyn van die huis. ’n Polisievrou het geantwoord, en toe ek vra waar my kinders is, het sy gesê ‘hulle is weg’.”
Amanda sê sy het geweet hy sal haar seermaak, maar sy het nooit gedink hy sal dit aan die kinders doen nie.
Raad aan ander vroue
“As jy jouself is ’n mishandelende verhouding bevind, stap uit,” sê Amanda.
“Dit is nie die moeite werd nie en jy doen jou kinders ’n groot onreg aan. Kom uit daardie huwelik of verhouding, al is jy hoe lief vir daardie mens. As ’n man jou een keer geslaan het, is die kanse groot dat hy dit weer sal doen.”
Sy sê dieselfde geld waar jy verbaal mishandel word.
“Kom heeltemal uit. Dit raak so giftig.”
Amanda sê jy moet ’n beter toekoms vir jouself en jou kind(ers) eerste stel.
“Ek was baie bang om ’n enkelouer te wees. Maar toe ek Kaap toe kom en tussen familie is, het ek gesien my kinders sal fine wees, al is ek ’n enkelouer.”
Sy sê sy voel sy het haar kinders gefaal deur die mishandeling toe te laat.
“Emosioneel breek dit jou kinders af ... dit sit jou kinders in ’n slegte ruimte, want hulle aanskou alles.”
Vergifnis
Amanda vertel sy was kwaad vir almal – vir Deon, haarself en sy ouers.
“Hulle is die mense wat van beter moes geweet het. Soos sy ma gesê het – sy ken haar kind,” sê Amanda.
Maar die woede het haar so siek gemaak dat sy in ’n psigiatriese eenheid beland het. Die omdraaipunt was toe sy besluit het om haarself te vergewe. “Hoe kan ek met myself leef deur nie te vergewe nie? Ek wil hê my lewe moet aangaan. Ek weet nie of mense dit so verstaan nie.”
Amanda vertel sy is op die punt om te begin studeer.
“As ek nou met my studies begin, wil ek goed doen. Ek sal nooit van hulle kan vergeet nie, maar ek wil ’n nuwe hoofstuk begin. Almal se lewens het aangegaan.”
Sy sê dit is ’n seer pad om te stap, en veral op Moedersdag voel sy soos ’n “leë mamma”.
“Ek sit dan nou hier sonder kinders – ’n verleë mamma; ’n leë moeder. Jy moet weet as jy jou eie kinders verloor, vul ander kinders nie regtig daai gevoel of leemte nie.”
Sy het met die grafsteen probeer genesing vind.
Amanda het gevra om die grafsteen een blad te maak, want sy wou nie hê daar moes skeiding wees nie.
“Ek wou hê die kinders moes sien dat ek hul pa vergewe het en tot die punt gekom het waar ek aanvaar het wat hy gedoen het, was verkeerd, maar dit is nie vir my om te oordeel nie.”
Amanda het Spreuke 16:6 op die grafsteen laat grafeer.
“Daardie skrif is nie net vir hom bedoel nie, maar vir my ook, want ek het ook verkeerd gedoen. Tog kan ek die pad stap om my lewe te verbeter, my te bekeer en myself van baie ander dinge te red. Dis vir my en hom.”