
Die Vroue-landbouvereniging (VLV) se Goodwood-tak het op Donderdag 2 Maart sy jaarlikse konferensie gehou, asook die 75ste bestaansjaar van die tak gevier.
Wenda Preuss, voorsitter van Goodwood-tak, sê entoesiastiese vroue en vroue wat wil leer, dít is wat Goodwood se VLV aan die lewe hou.
René Nel, sirkelpresident, sê die vereniging probeer mense bemagtig dat hulle uitiendelik op hul eie bene kan staan, “sodat hulle miskien ’n entrepreneur kan word met dit wat hulle by ons leer”.
“Ons leer vir die mense vaardighede,” sê Nel.
Lede in hierdie organisasie is van 16 tot 90 jaar oud, sê Nel, met hul jongste lid Shona Josephs, wat 16 jaar oud is.
“Ons is tans die grootste vroue-organisasie in Suid-Afrika en geaffilieer by die Wêreldbond van Plattelandse Vroue, wat in Londen gestasioneer is,” sê Nel.
“Ons het 100 bome gekry van die minister van landbou, dr. Ivan Meyer, en by 16 skole gaan plant. Dit was ons projek vir die jaar” bome vir ons kinders,” sê Preuss.
“Die ondersteuning van Goodwood is baie goed.”
Nel verduidelik dat hulle ’n redelik swak fase gehad met Covid-19, toe die tak 10 lede verloor het, maar nou bou hulle dit weer op en vertel vir die mense bietjie meer oor die vereniging.
Aansluiting
Sou jy wil aansluit, kom jy net en sê jy wil ’n lid word. Daar is nege takke in die Suid-Kaap en jy kan besluit waar jy wil aansluit. Daar is twee aandtakke en die ander is dagtakke.
Al die inligting op hul webtuiste beskikbaar, asook kontaknommers.
“Kies jou naaste tak, kontak die voorsitter en dan kan jy aansluit. Daar is ’n aansluitingsfooi vir die jaar. En ’n teegeldjie wat elke maand betaal word,’n spreker elke maand, kompetisies elke maand.
“Daar is ses studierigtings: gesondheid, kunste, landbou, openbare sake, opvoeding, kultuur en naaldwerk-en-tuisteskepping.
“Landbou is maar net een van die portefeuljes.
“Elke maand word ’n praatjie oor ’n ander portefeulje gehou. As dit gesondheid is, kry een van die bestuurslede ’n spreker oor gesondheid,” sê sy.
Preuss is nou al lid van die Goodwood-tak sedert 1990 en Nel sê sy het in ’n VLV-huis grootgeword – haar ma was ’n VLV-lid en nou is sy ook. Sy is nou al meer as 40 jaar ’n lid van die VLV.
Nel sê die groei het redelik afgeneem so 10 jaar gelede, maar sê skielik ná Covid-19 is daar nou weer ’n toename in mense wat belangstel en mense wat by die huise is, wat nou wil begin en aansluit.
Preuss sê die beplanning was baie stresvol; hulle werk nou al ’n jaar daaraan.
Connie Marais, sekretaresse van die Goodwood-VLV, sê daar is gewoonlik vooraf ’n inligtingsessie, waar die reëls en regulasies deurgegee word en hoe die verpakking moet plaasvind sodat die kompetisie regverdig sal wees.
Die VLV Goodwood-tak het ook ’n marktafel elke maand by die moederkerk.
Universiteit vir die huisvrou
Die ondervoorsitter, Alet Colyn, sê Parow het die meeste punte van al die kompetisies tot dusver.
Colyn is vanjaar 23 jaar lid van die Goodwood-tak en Connie sal volgende jaar 20 jaar lid van die tak wees.
Colyn meen die VLV is ’n huisvrou se universiteit, want jy leer so baie.
“Jy het nie nodig gehad om R5 000 te betaal vir ’n kursus nie, jy het R30 betaal vir ’n klas en as jy nie by die klas is nie, het jy nie betaal nie.
“Dit is ’n opvoedkundige storie,” sê Colyn.
“Die ergste is die jongmense stel nie belang nie. Ons het aandtakke ook, vir die werkende vroue. Elke tak het een maal per maand ’n byeenkoms. Aandtakke werk vir jong, werkende mense.”
Marais beskryf hierdie byeenkomste as terapeuties.
“Dis my voedsel vir my siel as ek hier is.”