
Die Wildsfeesgees vier hoogty op Kirkwood en om hierin te deel sorg die plaaslike ATKV Kirkwood-tak vir twee lekker-lag produksies dié naweek.
In die gees om omgee, word die produksies gratis aangebied, maar donasies ten bate van die Vallei Diere Vriende sal welkom wees.
Volgens Willie Rossouw, ATKV Kirkwood-voorsitter, word ‘n skreeusnaakse tweeman-komedie getiteld Die Roadtrip vir volwassenes deur ATKV PEAAT aangebied, terwyl die kleinspan kan uitsien na ‘n kinderteaterstuk, Dinosourusse Kan Nie Lees Nie, wat by die Wildfees bekendgestel word.
“Die Roadtrip was ‘n baie suksesvolle produksie by die KKNK 2019 en ons glo Wildsfeesgangers sal dit net so geniet,” sê Rossouw.
Dit handel oor twee universi-teitsvriende wat na ‘n paar jaar besluit om die pad saam aan te vat. Op dié road trip begin hulle besef dat die tyd aangestap het en hul prioriteite intussen heelwat verander het.
Dit is nie altyd maklik om aan die vereistes van die lewe te voldoen nie, maar ten spyte van verandering oor jare, geniet die manne steeds hul vriendskap.
In die kinderteaterstuk, Dinosourusse Kan Nie Lees Nie, wat gekryf is deur die bekende teatermaker en aktrise Ilne Fourie en deur die ATKV aangebied word, het Emmie en haar vreemde Ouma Bassie ’n reuseprobleem met ’n dinosourus. Met kleurvolle karakters en lekker loslitliedjies neem die kinder- teaterstuk jonk en oud op ’n verbeeldingsvlug. Interaktief en kreatief, met ’n les daarby: Lees is baie belangrik en baie lekker!
Die ATKV-produksies word by die Ondersteunersklub op die feesterrein aangebied.
Dinosourusse Kan Nie Lees Nie word Vrydag 12:00; Saterdag 15:00; en Sondag 10:00 aangebied en Die Roadtrip is Saterdag om 10:00 & 12:00 op die planke. Die ATKV bied ook ’n interkerklike diens Sondag om 09:00 in dieselfde perseel by die fees aan.
“Ons ATKV-jeugtakke van St Colmcille en Hoërskool Kirkwood, gaan ook die hele naweek ‘n sitrusstalletjie beman waar lekker vars lemoene, nartjies en suurlemoene verkoop word,” sê Rossouw.