
“As ’n kind wil rugby speel, help ons hom. As hy nie in ’n skool is nie, help ons hom om by ‘n skool toegelaat te word. Dit gaan daaroor om ’n kind ’n beter toekoms te help bied. Ons moet help waar ons kan.”
Dit is die woorde van Andrew “Oom Boy” Jacobs stigter en voorsitter van Warriors Rugbyklub wat sedert 2015 laerskoolseuns, wat nie in skoolspanne opgeneem word nie, se rugbytalent ontwikkel.
Al vereiste om in ‘n Warriors span opgeneem te word is dat die jong rugbyspeler aan ‘n skool verbonde moet wees.
Een só ’n jong talentvolle rugbyspeler wat vir Warriors wou speel, maar nie op skool was nie, is Nyvin Hendricks (13). Warriors het gou plan gemaak en hom in die skool-sisteem gekry.
“Die outjie het by die oefeninge aangekom, maar het nie skool geloop nie. Ons het ‘n plan gemaak en nou is Nyvin in graad 5 by Seagull Primêre Skool. Hy is ’n uitstekende rugbyspeler met baie talent,” sê Jacobs.
Lindatno Morris, ondervoorsitter van die klub, sê dat dit ook vir Warriors belangrik is dat die rugbyspelers se akademie op standaard is. “As hulle oefeninge toe kom, sal ons hulle uitvra oor hulle huiswerk. Wanneer dit eksamen of toetse is, mag hulle nie oefen nie, dan moet die outjies leer.
“Vir ons afrigter Elandré Meyer is dissipline baie belangrik en hy maak seker dat die outjies skitter op die veld. Daardie dissipline help ook met hulle skoolwerk.”
Luyanda Jantjies, een van Warriors se bestuurlede sê: “Van die seuns wat by ons kom oefen, ken nie regtig rugby nie, dan leer ons hulle.
“Dit gebeur wel dat skoleafrigters wat die kind eers nie ‘n kans wou gee nie, die kind dan sê hy moet vir die skool speel.”
Volgens afrigter Elandré Meyer het Warriors tans meer as 70 jong rugbyspelers.
Die klub is ook by die Oostelike Provinsie Rugbyunie geaffilieer om met o.9, o.11 en o.13 spanne teen laerskole op Kariega kragte te meet.
“Ons is tans in gesprek met OP om ook met ’n o.16 span te begin,” sê Meyer.
Volgens hom is die spanne vanjaar propvol talent en sien hulle uit na die wedstryde wat volgende kwartaal afskop
Warriors oefen van Maandae tot Donderdae tussen 15:00 en 17:00 op die Derrick Ferreira-rugbyveld.
Buiten rugbyontwikkeling, wil Warriors ook in samewerking met plaaslike besighede die rugby-fasiliteite regmaak en verbeter.
“Ons moet as ’n gemeenskap ernstig begin verantwoordelikheid opneem van ons sportfasiliteite.
“Dit is ‘n skande hoe dit afgebreek word.
“As gemeenskap moet ons die fasiliteite oppas, dit is vir ons kinders te toekoms,” sê Jacobs.
- Vir meer inligting oor Warriors bel Andrew Jacobs by 072 685 1098 of Lindatno Morris 078 175 3847.