
‘n Onderwyseres van die Hoërskool Despatch, Monique Jonck, ook ‘n lid van die Protea-vrouehengelspan, het tydens die onlangse Gala Streek 5 internasionale hengeltoernooi wat op die strand by Jeffreysbaai aangebied is, die meeste visse gevang.
Monique en haar ses spanmaats het hul visvangvernuf teen die Namibiese vrouehengelspan getoets. Daar was altesaam 12 spanne met onderskeidelik ses van Suid-Afrika en ses van Namibië.
Monique en haar span het ‘n goue medalje ingepalm en op individuele vlak was Monique ‘n wenner met die 13 visse wat sy oor drie dae ingekatrol het. Sy het algeheel vyfde tussen die 14 vroue geëindig.
“Daar is baie meer luck as tegniek in visvang, maar jou aas speel ‘n rol.”
Tog moet ‘n mens taai wees om goed te kan hengel, benadruk Monique: “Om op dié vlak te hengel is definitief nie vir sissies nie. Dit is nie moeilik nie, maar dit is rof op ‘n mens se lyf. Jy moet die heeltyd jou alles gee om seker te maak jy maak jou span trots.
“Daar is baie wat deur ‘n mens se gedagtes gaan wanneer jy visvang. Ek dink aan my volgende aas en waar ek kan gooi en wat ek anders kan doen om ‘n vis te vang. ‘n Mens waardeer ook die mooi wat jy om jou sien.
“Dit was ‘n groot voorreg om vir die Protea-vrouespan te hengel.”
Die meerderheid visse wat oor die drie dae tydens die toernooi gevang is, was sandhaaie. Alle visse is weer vrygelaat in die see.