
“Al van 2015 waarsku ons die inwoners van Nelson Mandelabaai daar gaan watertekorte kom, verlaag die watergebruik, maar bitter min het geluister en nou gaan almal die gevolge dra.”
Aan die woord is Garth Sampson, al die afgelope 40 jaar as meteoroloog verbonde aan die Nelson Mandelabaai se weerkantoor.
Op sy Facebookblad Weather Guru, doen hy knaende beroepe op die streek se inwoners om water baie meer spaarsamig te gebruik en om watertenks aan te skaf.
Vir diegene wat bly glo Nelson Mandelabaai sal nie ‘n Dag Zero beleef nie, want kyk hoe oorvol is die Gariepdam, genoeg water kan deur die Nooitgedagt-skema voorsien word, antwoord Garth soos volg:
“Die totale waterverbruik vir die Nelson Mandelabaai-streek is min of meer 280 megaliter water per dag. Die Nooitgedagt-skema gaan die oostelike dele bedien en kan op sy piek 200 megaliter water lewer. En hoe gaan die water by die westelike gedeeltes – dit is nou gebiede soos Somerstrand en Walmer – uitkom?”
Die Nelson Mandelabaai Sakekamer het reeds gewaarsku dat die streek se belangrikste opgaardamme (Churchill, Loerie en Impofu), waaruit water aan die Nelson Mandelabaai asook die Kouga-streek verskaf word, teen einde Mei/Junie droog sal loop.
Sampson stem saam. “Dít sal gebeur as daar nie voor hierdie datums goeie reën in die opvangsgebiede val nie want die hoë tempo van wateronttrekking uit die damme duur voort.
“Die inwoners van Nelson Mandelabaai en die Kougastreek moet hul gesamentlike waterverbruik afbring na 210 megaliter per dag, dan kan ons Dag Zero bietjie aanstoot tot die ander watervoorsieningskemas in werking tree soos dié van Coegakop en die boorgate wat op die lyn is na die Churchill-dam.”
Die Kougadam is ‘n belangrike opgaardam, maar Nelson Mandelabaai se wateronttrekking hieruit (via kanale na die Loerie-dam) geskied slegs op die persentasie wat deur die Departement Waterwese en Sanitasie aan die munisipaliteit toegeken is. Die res gaan na landbou.
Mense moet ook verder as net drinkwater dink, wat van rioolstelsels waarsku Sampson. “Jy kan miskien ‘n watertenk hê, maar as jou bure nie watertenks het nie is dit veral ’n groot gemors want wat gaan met hulle riool gebeur wanneer hulle toilet toe gaan? Rioolstelsels sal verstop.”
Droogte en vloed
Volgens Sampson moet 50mm en meer reënval binne 24 uur in die opvangsgebiede val om ‘n verskil te maak aan die damvlakke.
“Die grootste kanse vir goeie reën is in Mei en Augustus. As dit nie dan reën nie, is daar net die water uit Nooitgedagt. Wat dan met Jeffreysbaai en Humansdorp gaan gebeur wil ek nie eers aan dink nie.”
Sampston glo die vloede gaan kom.
“Droogtes, gebreek deur vloede in Nelson Mandelabaai, is nie n nuwe ding nie. In 1836 het die eerste Setlaars geskryf ‘houses flooded after prolonged drought’.
“Dit is die weer-geskiedenis van dié streek. Ons is in óf ‘n droogte-siklus óf in ‘n nat siklus. Die vloed gáán kom. Dit is nie if nie, dit is when.
Klimaatverandering
Daar word aanhoudend na klimaatverandering verwys en hoe dit droogtes én vloede toenemend erger maak.
“Dit gaan erger raak, want daar is meer-en-meer mense in ’n geslote sisteem met beperkte water.”
“Wat ook in ag geneem moet word is meer geboue en huise en toenemend meer plaveisel verhoog vloedrisiko omdat daar al minder natuurlike grond-oppervlak is waarin water geabsorbeer word.”
Water stroom oor dié oppervlaktes en strate en word sterker-en-sterker en stormwater stoot sy eie pad oop.
“Een van die ergste vloede in die Baai was in 1908 toe die Baakensrivier by die seemonding ses meter hoog opgestoot het. Die meeste reën het tussen die plase Lovemore Heights en Perkins (Hunters Retreat) geval, maar toe was daar nog geen ontwikkelings daar nie.
“Vandag is daardie area die voorstede Lorraine en Sherwood en is vol sement, teerpaaie, duisende dakke en plaveisel. Waar moet vloedwater dan heen?”
Vir Sampson bly die beste watersekuriteit te midde van vloed of droogte ’n watertenk, leë asdromme of enigiets anders waarin reënwater opgevang kan word.
“Gaan koop of kry enigiets om reënwater in op te vang. En gebruik water spaarsamig. Jy kan miskien sonder elektrisiteit leef, maar jy kan nie sonder water leef nie.”