
Welbekende Suid-Afrikaanse akteur Frank Opperman gaan op 26 en 27 Mei sy nuwe eenmanvertoning na die verhoog in Gqeberha bring.
NG Kerk Patmos-gemeente nooi lesers uit om die produksie by die Impetus-teater in Circularrylaan 29 by te woon.
Ek wens, ek wens is ’n fabelagtige verhaal oor Seb, ’n lykbesorger wat ’n grys, eenvoudige en ongelukkige bestaan lei.
Sy lewe is een van roetine en kleinighede en hy sien lankal nie meer die wonder en grootsheid van die lewe raak nie.
Tot hy eendag ’n engelagtige seuntjie, Gawie, ontmoet.
Die magiese gevolge van hierdie ontmoeting noop Seb om te vra: “As ek net een wens het, waarvoor sal ek wens?
’n Ander werk, ’n klomp geld, beter verhoudings met die mense om my? Wat is vir my belangrik? Wat wil ek die graagste in my lewe hê?”
Die sprokiesagtige Ek wens, ek wens is veral geskik vir nou. Met hierdie teks en produksie wil Frank die publiek juis dít laat doen: vir ’n oomblik weer fokus op dit wat die lewe wonderbaarlik, eerlik, eg en mooi maak.
Zirk van den Berg se sprokie vir grootmense is bekroon met die WA Hofmeyer en die kykNET-Rapport prys.
Die vertoning op Vrydag, 26 Mei, en Saterdag, 27 Mei, begin om 18:30. Die koste beloop R160 per persoon en sluit ’n glasie port en “pudding” in. Daar sal ook etes te koop beskikbaar wees voor en ná die vertoning by die teater.
Kaartjies is beskikbaar op Webtickets by https://webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1525034738 of by enige Pick n Pay se “MoneyMarket” toonbank.
– VERSKAF DEUR DIE NG KERK PATMOS