
Die trane het vrylik gevloei terwyl ‘Ant’ Jenny vertel het van haar liefde vir haar medemens en hoedat dit haar hart aanraak wanneer sy ander sien swaarkry.
Sy kan eenvoudig nie gaan slaap as sy weet daar is iemand wat honger moet bed toe gaan en dat sy iets daaraan kan doen nie.
Dit is die hoofrede waarom Jenny Kapank (61), van Lukiestraat in Gerald Smith, besluit het om haar hart en huis vir mense oop te maak.
Vir meer as ’n dekade is Ant Jenny ’n staatmaker in die gemeenskap en sorg sy dat elke behoeftige mens – binne en buite haar onmiddellike omgewing– met ’n maag vol kos gaan slaap.
Nou is haar hart stukkend omdat sy onlangs met kanker gediagnoseer is en dokters gesê het dat die gewas onopereerbaar is.
“Ek wil net weet wat van hierdie mense gaan word as ek nie meer hier is nie. Dit is die een ding wat ek vir my dogters gesê het: Die dag as ek nie meer hier is nie, moet hulle voortgaan met my werk. Hulle moet nie van die mense wat my nodig het en steeds nodig gaan hê, vergeet nie,” het Ant Jenny gesê met trane wat oor haar wange rol.
Nadat sy ’n oomblik haar oë styf toegeknyp en ’n rukkie stil geword het, het sy verskoning gemaak vir haar trane.
“Ek wou nie huil nie, maar hierdie mense is so na aan my hart. Daar is mense wat soms dae lank sonder kos gaan en om so lank nie te kan eet nie, is verskriklik. Dit is verskriklik hoe honger die mense hier buitekant is.
“My ouma het altyd gesê jy moet kook sodat jy kan kook vir die straatloper en van haar het ek geleer dat jy nie moet huiwer as iemand van jou iets vra nie.”
Volgens Ant Jenny het sy in 2010 met haar sopkombuis begin en het sy haar tyd gedeel tussen drie dae in Kamesh en twee dae in KwaNobuhle. Dit het oor die tyd heen verander na vyf dae in albei woonbuurte.
Sy het ook besluit om oor Paasnaweke paaseiers en lekkergoed aan kinders en haweloses uit te deel. Kinders in Gerald Smith kan sommer by haar huis aanklop om hul pakkies te kry. Intussen het sy ook pakkies met kositems vir behoeftiges in KwaNobuhle uitgedeel.
“Ek het ’n baie groot passie vir my medemens wat swaarkry en vir my is dit bitter swaar om te sien wanneer iemand swaarkry. Net ’n voorbeeld: Ek en my man het een dag in KwaNobuhle aangekom. Ek eet nie in die oggend nie, so as ek honger word by ’n sopkombuis, koop ek sommer ’n stukkie hoender.
“My man het ’n appel geëet en die appel se skille onder in die pakkie gesit en die hoenderbene ook in die pakkie gesit. Een van die outjies daar het dit uitgehaal en dit was vir my baie hartroerend gewees om te sien dat iemand tot op ’n hoenderbeen eet van honger. Selfs daardie appelskille het hy geëet en net daar het ek besluit om die mieliemeel en stampmielies ook uit te deel,” het sy vertel terwyl die trane weer opnuut oor haar wange gestroom het.
Ant Jenny het bygevoeg dat haar hart baie dankbaar is vir ’n bekende dokter op die dorp, wat verkies om anoniem te bly, wat help met skenkings sodat sy mense kan voed.
Debonairs skenk ook 300 pizzas per maand wat oor drie dae uitgedeel word.
“Toe ek onlangs siek geword het, het vier dokters vir my gesê dit is te gevaarlik om te opereer en soos ek vir die mense hier rond sê aan wie ek goed doen: Dit is nie nodig om vir my iets terug te gee nie, hou my net in julle gebede. Ek glo en vertrou dat die Here my sal genees. Al wat ek vra is dat hulle vir my moet bid.
Een van Ant Jenny se twee dogters, Celeste Rank, het gesê dat sy al self gesien het hoe iemand vir haar ma kos vra en haar ma sonder huiwering gee.
“Dit kan maar ons hoender wees vir die volgende dag, sy sal dit gee en sê dat sy weer môre ’n plan vir ons sal maak. Soms dink ek dat dit die mense is wat goed probeer doen wat so seerkry in die lewe, soos my ma wat siek is, maar dan sê mammie vir my dat die Here ook seergekry het,” het sy gesê.
“Ek en my suster het ’n goeie voorbeeld in ons ma en ons sal met haar werk voortgaan as dit eendag nodig word.”