
Deesdae ry motoriste verby ’n “erewag” in Despatch se hoofstraat, want hier het ’n laning hoë palmbome verrys - só asof dit deur ’n wonderwerk uit die Bybel tot in Despatch beland het.
Eintlik is dit alles n bietjie van ’n wonderwerk, want dié 25 palms van sowat 40 jaar oud, is gered deur ’n man wat op die regte tyd in die regte posisie was. Hy is Frans Swanepoel, raadslid van Despatch.
Goodyear het tenders aangevra om die groot ou bome te verwyder omdat dit moes plek maak vir nuwe ontwikkeling by die bandefabriek op Kariega. Volgens die tenderbepaling kon die bome afgesny of uitgehaal word.
“Die blote gedagte dat dié ou bome afgesaag en vernietig sou word, het my hare laat rys. Bome is vir my heilig. Ek het vinnig plan gemaak om hulle te help red. Ontwikkelaars uit die Kaap het ons byna R600 000 aangebied vir die bome. Ek het dit van die hand gewys want dié bome het nie ’n prys tag op nie. Hulle hoort hier op ons dorp,” sê Swanepoel.
“Party mense doen bungy jumping, ander spring met valskerms uit vliegtuie om ’n adrenalien rush te geniet. Ek plant bome. Dit is my kos.”
Swanepoel beklemtoon dat die uithaal, vervoer, plant, natmaak en versorging van die palmbome die belastingbetaler nie ’n sent gekos het nie of gaan kos nie.
“Dit was ’n privaat-tender deur Claassen Crane & Machinery Hire (CCM) en die inisiatief het niks met die munisipaliteit of enige politieke party te doen nie. Hier is great mense op die dorp. As daar gehelp moet word is hulle daar.”
Die natuur en tuinmaak is van Swanepoel se groot liefdes.
“Ek is ’n ou hand wanneer dit kom by die verplanting van palmbome. Meeste van die bome wat ek in my lewe op Despatch laat verplant het, het aangepas en staan lowergroen en groei voort.”
CCM, ’n grondverskuiwings-maatskappy van die Despatchers Hansie en Fanie Claasen, was verantwoordelik vir die uithaal, vervoer en verplanting, terwyl Hein Potgieter van Sandman op dié dorp met sy watertrokke water uit die Swartkopsrivier aanry om die bome nat te hou.
Elvis Thethani, CCM se bedrewe hyskraandrywer, sê van die bome wat hy moes oplig het tot 18 ton geweeg.
Swanepoel het nog planne vir die oop stuk grond by die nuut-aangeplante palmbome.
“My plan is om toestemming te kry om hierdie oop stuk grond die Goodyear-park te noem. Hier is baie mense op die dorp wat by Goodyear werk of daar gewerk het. So, Goodyear sorg vir baie mense se kos op die tafel en verdien daarvoor erkenning. Die park is die ideale plek vir buitelug-markdae en ek het nog groot planne om dit nog mooier te maak.”
Despatch is waarskynlik die dorp in die land - in verhouding met die dorpsgrootte – wat met die meeste palmbome van alle soorte kan spog. Miskien moet iemand eendag ondersoek instel of dit inderdaad so is. Indien wel, kan Despatch dan voortaan as Suid-Afrika se palmboom-hoofstad bekendstaan.