
Die euforie om los te kom van swaartekrag met die nuwe rek-, trampolien-, en Kangoo-springoefeninge op Despatch, gee vele vroue “nuwe vlerke”.
“Dit is ‘n veilige en happy place waar jy vir jouself oefen en nie vir ‘n ander nie,” beskryf Hester Gough, eienaar van Body Rock Fitness die gevoel wat hierdie soort oefeninge aan vroue bied.
“Rekspring is fantastiese oefeninge vir veral rug en knieë. ‘n Mens kan hardloop, spring, sweef, duik en val sonder om seer te kry. Dit is uitstekend vir balans.”
Hester help ook vroue tydens individuele oefeninge met rehabilitasie ná ‘n operasie of besering.
“Ons bid ook sommer so tussendeur en vroue stap geinspireerd hier uit,” sê sy.
Tog moet jy daarna oplet om règ te oefen.
“Jy kan fiks wees en vir ure spring, maar as jy nie reg spring nie, sal dit geen verskil aan jou liggaam maak nie. Jy moet jou enkels, knieë, heupe en liggaamskern (core) reg gebruik, dan sal jy die gewenste uitwerking op jou liggaam voel en sien.
“Hierdie oefeninge is baie sagter en beter op jou gewrigte, baie goed vir balans en algemene gesondheid. Ek het ‘n jaar-en-‘n-half gelede ‘n volle knievervanging gehad en oefen weer voluit.”
Springstewels & rekspring
Kangoo is springstewels, waarop aerobiese oefeninge gedoen word en het ook die minimum impak op gewrigte.
“Die Kangoo oefen jou hele lyf van kop tot tone, veral maagspiere. Ons hardloop soms ook met dié stewels deur die dorp se strate. Om die pad op hierdie Kangoo’s te vat, is baie lekker en beter as om met tekkies te hardloop.”
Hester is ‘n meester-afrigter in Kangoo en sy het dié kwalifikasie aanlyn in Kanada verwerf. Sy is ook ‘n meester-afrigter in Bungee, ‘n kwalifikasie wat sy aanlyn in Argentinië verwerf het.
Hester het 22 jaar gelede met aerobiese oefeninge in die Despatch Stadsaal begin en onlangs hul erf in Willem Olckersstraat laat hersoneer om ‘n ruim oefenateljee met genoeg hoogte vir die rekspring-oefeninge te bou. ‘n Span van sewe vroue-instrukteurs help Hester met oefeningsessies.
“Ek kyk voortdurend uit vir nuwe oefeninge. Ons gaan binnekort met hammocks (hanglappe) begin wat veral help om jou liggaamskern en bolyf sterk te maak. Dit help ook met soepelheid en balans.
“Hier is ‘n groot verskeidenheid lae impak-oefeninge. Beslis iets vir elke vrou wat wil oefen om gesond te wees en beter te voel oor haarself. Ons almal gaan maar deur tawwe tye en hier help ons mekaar,” sê Hester.
Oefen-marathon
‘n Aerobiese en taebo oefen-marathon word op 4 Februarie vanaf 08:00 by Body Rock Fitness gehou. Vroue wat belangstel om deel te neem (R150/persoon) moet bespreek en kan Hester bel by 074 839 6446.