
Die onlangs lang verwagte reën het onlangs gelukkig geen impak op ’n klompie jong aspirant-gholfspelers se slypskool gehad nie.
Verskeie van die Nelson Mandelabaai Metro se jong opkomende gholfspelers is tydens die Nelson Mandelabaai Classic-toernooi, wat by die Humewood-gholfbaan gespeel is, ’n kans gegun om met bekende professionele gholfspelers skouers te skuur.
Altesame 33 seuns en dogters uit Motherwell, Kariega, Kuyga en die Noordelike voorstede van Gqeberha het aan die gholfkliniek, wat Woensdag en Donderdag by die Humewood-baan gehou is, deelgeneem.
Onder die professionele gholfspelers wat die kinders met raad en daad bygestaan het was Brett Liddle, Ben Fouchee, Didier Plassan, Hennie du Plessis, Laurison Mahlangu, Gordon Millar, AP Botes en Vusi Mahlangu.
“Daar is werklik ’n behoefte aan gekleurde spelers om meer blootstelling te verkry”, het Frans de Kock, die Oos-Kaapse bestuurder van die Suid-Afrikaanse Gholf Ontwikkelingsraad gesê.
“Dit is juis hiermee waar verskeie organisasies in die gholf-gemeenskap by betrokke kan raak.
“Daarom is ons juis dankbaar vir organisasie soos die Sonskyn Senior Toer om ons kinders die geleentheid te kon bied om deur kenners, soos die gholflegendes wat daar was, raad te ontvang in die spel wat dikwels groot uitdagings kan aanbied.”
Die Nelson Mandelabaai Classic-toernooi is een van verskeie toernooie wat jaarliks onder die vaandel van die Sonskyn Senior Toer gespeel word.
De Kock het ook gesê dat daar heelwat talent onder die jong spelers is, maar dat die betrokkenheid van organisasies noodsaaklik is om aan hulle blootstelling te bied.
“Ek sal byvoorbeeld nooit vergeet hoe opgewonde AP Botes was toe hy een van die jong spelers, Leeroy Baartman van Uitenhage, ’n bal met soveel oorgawe sien slaan het nie. Dis dié tipe jong spelers wat ons moet help bevorder”, het hy gesê.
“Die kinders, almal uit ’n voorheenbenadeelde agtergrond waardeer werklik die geleentheid wat hulle ontvang en is altyd so opgewonde om die gholf t-hemde te ontvang wat aan hulle uitgedeel word en boon-op met die spelers wat hulle voorheen net op die televisie gesien het, te kan gesels.”
“Nadat die jong spelers reeds so bietjie instruksies ontvang het, het een van die seuns na my toe gekom en met entoesiasme en blink oë gesê dat hy nou weet waaraan hy moet werk Dit is net een van die redes wat die klinieke die moeite werd maak.”
“Asof dit nie genoeg is nie, het ons ook twee spelers Johndre Ludick en Devon Valtenine uit ons gebied in die Golf RSA 2023-span. Die twee spelers het definitief by die gholfklinieke baat gevind wat hulle die afgelope jare bygewoon het.”
Bassie Kamana, die Nelson Mandelabaai Munisipale Komiteelid (Bay Municipality Member of the Mayoral Committee (MMC)) vir Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur, het tydens ’n perskonferensie wat voor die Nelson Mandelabaai Classic-toer gehou is, gesê dat hy ook sou wou sien dat jongmense uit alle vlakke en skole saam die klinieke sou moet bywoon omdat dit sou bydra tot die bou van die nasie.
- Adilson da Silva van Brasilië het die Nelson Mandelabaai Classic-toer gewen.
Bel Frans de Kock 084 244 7703 vir meer inligting.