Ons ken die verhaal in Lukas 17:11 tot 19 van die tien melaatses wat genees is. Net een van die tien was opreg dankbaar vir die genesing. Hoewel al tien fisies gesond geword het. Net een van hulle het gehoor, staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered – (vers:19).
Sy dankbaarheid het hom meer as die ander laat ontvang. Daar is ’n dieper werk in sy hart en ook sy hart word gesond. Die man was ten volle genees.
Die mens se gees, siel en liggaam word deur dankbaarheid geraak. Dit verseker dat ons die lewe met ’n tevredenheid en gelatenheid leef.
Dit verdryf die gees van ongelukkigheid. Die gif van bitterheid en opstand word geneutraliseer. Alle lewe word ’n plek waar geleef kan word.
Die bekende Bybelkommentator, Matthew Henry, se beursie is eenkeer gesteel. Omdat hy baie oor dankbaarheid gepreek het, besef hy, hy moet doen wat hy preek. Hy skryf die volgende in sy dagboek daardie aand voor hy gaan slaap.
Dankie, Here, dat hierdie die eerste keer is. Tweedens, dankie dat die rowers my nie beseer het nie. Derdens het my beursie nie baie geld ingehad nie, en laastens, dankie dat ek die een is wat geroof is en nie die rower was nie. Hy vertel hoe hy daarna rustig en sonder woede gaan slaap het.
Here, Jesus, ek wil graag met vrede vandag leef en vanaand so gaan slaap. Laat ek U dank vir alles sodat my liggaam, siel en gees kan rus vind. Bewaar my van die versmorende ondankbaarheid dat lewe om my draai. Amen.