
Young Hearts het Saterdag die harte van hul ondersteuners gebroke gelaat met een van die span se swakste vertonings nog die seisoen.
Die span van Ruben Abels het met 10-34 teen St. Helenabaai in die Agterbaai vasgeval.
Young Hearts, wat met een van die mees aanvallende agterlyne in die kompetisie pronk, was in die eerste helfte met die wind in die gesig heeltemal die kluts kwyt en kon nooit aan die gang kom nie. Die tuisspan het nie baie gedoen om die oorwinning aan te teken nie aangesien die besoekers byna alles op ’n skinkbord gegee het.
Young Hearts kon nie eens met die meeste balbesit, gebiedsvoordeel, lynstaanbesit en oorheersing in die skrums dit tot sy voordeel gebruik nie.
Hy het egter belowend begin en die tuisspan moes ook die meeste van die verdediging doen. Die span het die tuisspan behoorlik in die grond geskrum, maar baie aanvallende lopies het egter skipbreuk gely en die tuisspan het dit behoorlik uitgebuit.
Die bal is by tye op ’n skinkbord aan die tuisspan gegee, wat dit in punte omgeskep het en reeds in die eerste helfte tot ’n bonuspunt gelei (rustyd reeds 31-0 voor). Die besoekers het egter die tweede helfte weer vinnig begin en reeds vroeg agter die tuisspan se doellyn gaan kuier.
Daarna was dit egter weer soos in die eerste helfte en die spelers het planloos gelyk. Young Hearts het ná sy tweede drie enkele sekondes later weer ’n kans gekry, maar het die bal voor ’n oop doellyn verloor. Die besoekers het op daardie tydstip teen 13 man gespeel, maar kon dit ten spyte van al die voordeel nie benut nie.
Die span van Abels het Saterdag nog ’n harde neut wat wag wanneer hy na Saldanha reis vir sy laaste wedstryd van die eerste ronde.
Saldanha het Saterdag gewys besoekende spanne moet hare op hul tande hê as hulle daar wil wen toe die blou tsoenami Vredenburg maklik 27-8 geklop het.
Mamre het Saterdag Hopefield in dié se agterplaas 31-29 geklop, en dié oorwinning kon nie op ’n beter tyd vir die groen truie gekom het nie.
Mamre onthaal Saterdag Vredenburg om sy eerste ronde af te sluit en ’n oorwinning kan die span nog een plek op die punteleer opskuif.
Atlantis het Saterdag sy kanse op ’n uitspeel laat oorleef met ’n goeie 34-21-sege oor die besoekende Peninsula.