
Die Hopefield-Thusongsentrum het ’n nuwe vleuel bygekry, en die span hoop dié nuwe kamers sal tot nog groter voordeel van die gemeenskap wees.
Drie nuwe kamers en ’n kombuis is deel van die aanbouing wat deur die Elandsfontein-myn se Kropz gefinansier is. Kropz het sedert die stigting van dié myn buite Hopefield besluit om in dié gemeenskap te belê, verduidelik Mark Maynard, bestuurder van die myn.
Maynard, die Saldanhabaai-burgemeester, André Truter, sowel as talle belanghebbendes wat die sentrum vir gemeenskapswerk gebruik, was Vrydag by die amptelike opening van die nuwe vleuel.
Truter sê die Thusongsentrum is ’n integrale deel van die gemeenskap. Hier kan inwoners deelneem aan sessies oor ouerskap en verslawing, rekenaars gratis gebruik en algemene inligting kry.
“Die belegging in die gemeenskap is ook ’n belegging in die toekoms van Hopefield,” sê Truter. “Om geld uit te deel, is dalk ’n makliker taak as om tyd af te staan, en ek glo [Kropz] sit die tyd in om ’n verskil te maak aan ’n gemeenskap wat dikwels voel hulle staan agter in die ry,” sê die burgemeester.
Maynard sê Kropz en die sentrum het ’n lang geskiedenis, met die myn wat van hul werksessies, onderhoude en vergaderings sedert 2016 by die sentrum hou. Hy sê aangesien die myn nou in bedryf is, was Vrydag die ideale tyd om die vennootskap te vier.
Salomé Adams, koördineerder van die Thusongsentrum, het Kropz bedank vir hul belegging asook “alles wat julle nog vir ons gaan doen”.
Sy het ook die span wat daagliks saam met haar by die sentrum werk vir hul getroue diens en insae bedank