
Twee vlieë met een klap!
’n Groep vroulike motorfietsryers van die Weskus het Saterdag Internasionale Motorfietsrydag vir vroue gevier en terselfdertyd was die saamtrek van Vredenburg af ’n manier om kankerbewusmaking te bevorder.
Die 16de internasionale Motorfietsrydag vir vroue is op 7 Mei met groot opwinding en in samewerking met Cancervive ook hier aan die Weskus gevier.
Cancervive is ’n organisasie sonder winsoogmerk wat hom op bewusmaking van kanker in verskillende geslagte, waaronder borskanker, servikale kanker en prostaatkanker, toespits.
Volgens Elfrieda Engels van Cancervive, wat self ’n kankeroorwinnaar is, is die organisasie se doelwit om mense te onderrig in die voorkoming van kanker, maar ook om ondersteuning aan kankerlyers en hul families te gee.
“Hoewel ons op sekere soorte kanker fokus, bied ons ondersteuning aan alle kankerlyers,” het Engels benadruk.
Elke jaar in Mei, indien Covid nie verrigtinge kortwiek nie, neem vroue op hul motorfietse aan ’n saamtrek in verskillende provinsies deel om bewusmaking by die publiek, skole, organisasies, onkologiesentrums en versorgingsoorde te skep.
Saterdag het ’n groep vroue, asook ’n paar manlike ryers wat passievol oor kankerbewusmaking is, op hul ysterperde geklim en van die Phoenix Biker’s Bar in Vredenburg vertrek om ’n ent deur die Weskus te ry ter bewusmaking – en viering – van Internasionale Motorfietsrydag vir vroue.
“Die motorfietsryers wat saamry is gewoonlik 80% kankeroorwinnaars en 20% ondersteuners,” het Engels verduidelik.
“Saterdag se motorfietsrit was om mense bewus te maak en betrokke te kry en om nie stil te wees in ons missie nie.”
Cancervive wil graag al die motorfietsryers, maar ook die sakeondernemings wat tot die sukses van die dag bygedra het, bedank. Hulle is Bekker-plaasprodukte, MTN-Ipicsentrum, Phoenix-kroeg, MMG-Toyota, Dikkelicious, Wilbur Tupperware, Lutzville-wynkelder en private individue.
Indien iemand ’n skenking wil doen, kan hulle Elfrieda Engels by 082 854 3145 kontak. Volg gerus Cancervive op Facebook en Instagram.