.

‘Here, help my!’ smeek sy onder messteke

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Erin Fourie en haar eks-kêrel, Wilmar Valentine.
Erin Fourie en haar eks-kêrel, Wilmar Valentine.

Terwyl haar gewese kêrel haar herhaaldelik met ’n mes gesteek het, het sy onder haar asem gesmeek dat die Here haar moet help.

Só vertel die onderwyseres Erin Fourie (30), wat vroeër die maand ná ’n gruwelike mesaanval vir dood agtergelaat is.

Wilmar Valentine (26) is later die dag in Robertson in hegtenis geneem.

Sy kan nie verstaan dat die man met wie sy op trou gestaan en saam met wie sy reeds geld vir ’n huis gespaar het, dit aan haar kon doen nie, sê dié geskiedenis- en lewensoriënteringonderwyseres.

Die storie oor wat met Fourie gebeur het, het soos ’n veldbrand deur die Breedevallei versprei en baie mense was geskok dat só ’n toneel by ’n skool afgespeel het.

Fourie, ’n onderwyseres by Worcester Sekondêre Skool (WSS), is op Vrydag 5 November altesaam 22 keer – eintlik 24 keer as ’n mens die twee messteke aan die kop bytel – gesteek.

Standard het by haar ouerhuis met Fourie gaan gesels oor wat presies gebeur het en hoe dit nou met haar gaan.

Ek dink dit word beter, maar dan is dit simpel goed wat my terugsit. Ek weet dit gaan nog lank neem, maar ek is geduldig

Fourie sien tans twee maatskaplike werkers – een wat deur die WKOD aan haar bewillig word, en een by Famsa.

Sy vertel sy het die eerste paar dae nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, gevoel dit gaan emosioneel beter met haar, maar klein goedjies – soos om op die bank te sit – haar weer twintig treë teruggesit het omdat sy en Valentine die meeste van hul tyd by die huis deurgebring het.

“Ek dink dit word beter, maar dan is dit simpel goed wat my terugsit. Ek weet dit gaan nog lank neem, maar ek is geduldig,” vertel sy met trane in haar oë.

Sy sê wat Valentine aan haar gedoen het, is in alle opsigte verkeerd, maar mense ondersteun hom steeds, en dit is hartseer.

Fourie vertel aan Standard baie mense wil weet watter soort mens Valentine voor die aanval was. Sy beskryf hom as ’n “lieflike mens” wat haar “op die hande gedra het”.

Volgens Fourie het Valentine die grond waarop sy loop, aanbid.

Dit is wat haar die seerste maak en dit moeilik maak om te verwerk – dat die mens wat haar soos ’n prinses behandel het, dieselfde mens is wat haar vir dood gelaat het, sê sy.

Fourie sê hy het haar 30 minute voor die voorval gebel en gesê hy is baie lief vir haar en sy moet ’n mooi dag hê.

Verandering in gedrag

“Hy het die laaste paar weke  baie vreemd opgetree – soveel so dat ek hom aangeraai het om ’n sielkundige te gaan sien. Hy was daar, maar die sielkundige was nie op kantoor nie en hy het nooit so ver gekom om ’n afspraak te maak nie,” verduidelik Fourie.

Sy onthou sy het opgelet dat sy gedrag verander en dat hy angstig was, en dit het haar onveilig laat voel. Dit is toe dat sy en haar dogter na haar ouerhuis teruggetrek het.

Boonop het duisende rande uit hul gesamentlike bankrekening verdwyn, en volgens haar kon Valentine nie verduidelik waar die geld heen is nie.

Volgens Fourie het sy dit by die bank aangemeld sodat dit ondersoek kon word aangesien dit so ’n groot bedrag was.

“Hulle het die bank se CCTV-beeldmateriaal met my gedeel en ek het gesien dit was hy wat die geld getrek het. Dit het my gebreek, want hy was nie eerlik met my nie,” vertel Fourie.

Erin Fourie
Fourie voor ’n klaskamer by WSS.

Een van Valentine se vriende het haar gebel en aangeraai sy moet haarself wegvat omdat Valentine na bewering by die werk gesê het hy gaan haar en haar dogter doodmaak.

Verder het iemand haar ook ingelig dat hy na bewering ’n vuurwapen wou koop. Sy het daar en dan besluit om uit te trek.

“Hy het my elke aand gebel en gesmeek om terug te kom, maar ek het geweier,” sê Fourie. “Ek het nooit gedink hy sal so ver gaan om so iets te doen nie,” vertel sy teleurgesteld.

Wat het op die dag gebeur?

Volgens Fourie was daar geen waarskuwingstekens nie en is dit ook nie altyd maklik om dit raak te sien nie.

Ek het nie veel oogkontak met hom gemaak nie. Toe ek wel opkyk, het ek teen sy wit pet vasgekyk. Ek onthou dat hy my gevra het: ‘Baby, gaan jy regtig nie huis toe kom nie?’

Oor die voorval verduidelik sy dat sy daardie Vrydag ’n af-periode gehad het omdat die graad 10-leerders nie opgedaag het nie.

“Ek het gewag en gewag dat die leerders opdaag, maar hulle het nooit uitgekom nie. Ek het toe maar rustig deur ’n vraestel gewerk en die deur op ’n skrefie oopgelos sodat, as die leerders kom, hulle sal sien ek is in die klas.”

Terwyl sy besig was, het Valentine ingekom en sy het gedink hy gaan haar weer smeek om huis toe te kom.

“Ek het nie veel oogkontak met hom gemaak nie. Toe ek wel opkyk, het ek teen sy wit pet vasgekyk. Ek onthou dat hy my gevra het: ‘Baby, gaan jy regtig nie huis toe kom nie?’” vertel sy.

Fourie sê sy het hom eenvoudig geantwoord en net “nee” gesê.

Sy sê dit was toe dat hy ’n mes uitgeruk en haar onophoudelik gesteek het.

Sy wys na die steekwonde op haar arms soos sy vir haar gesig en nek probeer keer het.

Fourie sê Valentine het geweet wat hy doen. Hy het haar volgens ’n polisieverslag 22 keer gesteek, maar Fourie sê twee steekwonde aan haar kop is nie bygetel nie.

“Ek het my bes probeer om hom weg te kry van my af, maar hy het nie opgehou nie.”

Sy het selfs vir hom gesê sy is steeds lief vir hom en dat sy sal terugkeer huis toe – alles in ’n desperate poging om hom te laat bedaar en te laat ophou, maar dit het nie gehelp nie.

Fourie vertel met trane in haar oë hoe sy so naby aan die deur was, maar dit nie kon oopkry nie, want sy was uitgeput.

Ek glo daardie onderwyseres was my beskermengel, want as sy nie daar aangekom het nie, sou ek dood gewees het.

Terwyl hy oor haar gestaan het en haar aan haar klere vasgehou het, het ’n ander onderwyseres ingekom en geskree: “Wat gaan hier aan!?”

Fourie sê Valentine het geskrik, met die mes na die ander onderwyseres gemik en weggehardloop.

“Ek glo daardie onderwyseres was my beskermengel, want as sy nie daar aangekom het nie, sou ek dood gewees het.

“Toe alles oor en verby was, het ek met die deur tussen my bene gesit en was net dankbaar dat die deur oop was.”

Die onderwysers het haar wakker gehou, want sy kon nie meer haar oë oophou nie. “Hulle het my gevra wie dit aan my gedoen het, maar dit was te moeilik om my mond oop te maak omdat ek so moeg was.”

Fourie sê sy het vrede gemaak met wat met haar gebeur het en sy is nou ’n stem vir die vroue wat nie so gelukkig was om dit te maak nie.

Sy sê die gereg moet sy gang gaan en Valentine moet verantwoordelik gehou word vir wat gebeur het.

Fourie sê sy mis haar leerders en die skool verskriklik en wil graag terugkeer, want dit is iets waardeur sy moet werk.

Sy sê sy is dankbaar vir almal wat betrokke was – van die skool se personeel tot die hospitaalpersoneel wat haar behandel het.

besig om te laai... Regstreeks
Afghanistan 254/5
Netherlands 155/5
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
15.31
-0.3%
Rand - Pond
20.62
-0.1%
Rand - Euro
17.27
+0.1%
Rand - Aus dollar
10.92
-0.1%
Rand - Jen
0.13
-0.3%
Goud
1,841.30
-0.1%
Silwer
23.77
-0.9%
Palladium
2,166.50
+0.9%
Platinum
1,020.00
-1.3%
Brent-ruolie
86.27
-1.9%
Top-40
66,070
+0.6%
Alle aandele
72,567
+0.6%
Hulpbronne 10
72,878
+2.0%
Industriële 25
90,481
-0.5%
Finansiële 15
14,827
+0.8%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos