
’n Polisieman van De Doorns is gelukkig om nog te lewe nadat hy in die gesig geskiet is tydens ’n rooftog op die dorp.
Die voorval het op Maandag 13 Maart in Orchard, by die Modderdrift Supermark, gebeur.
“ ’n Man het by die winkel ingegaan en gesê hy wil ’n pakkie skyfies koop. Nog ’n man het toe ook by die winkel ingegaan. Die winkeleienaar het hulle toe gevra of hulle met ’n kaart of kontant gaan betaal. Die een antwoord toe dat hulle met kontant sal betaal, en haal toe ’n vuurwapen uit,” verduidelik ’n De Doorns-polisie-woordvoerder.
Een van die polisiebeamptes wat op die toneel aangekom het, was toe in ’n stoeiery betrokke met een van die verdagtes. Hulle is deur ’n sekuriteitsmaatskappy ingelig nadat hulle ’n paniekknoppie-syn gekry het.
“Tydens die stoeiery het die beampte se vuurwapen ’n skoot afgevuur en sy kollega is in die gesig getref. Die verdagtes het toe daarin geslaag om van die toneel af weg te hardloop.”
Altesaam R52 000 is van die onderneming gesteel en net R300 is teruggekry.
“Die geld was in ’n rugsak. Die verdagtes het deur mense se tuine en agterplase probeer weghardloop. Die sak waarin die geld was, was nie toegemaak nie en soos die verdagte gehardloop het, het die geld oral uitgeval. Later het die verdagte die sak neergegooi en albei verdagtes is daarna in hegtenis geneem,” het die woordvoerder verduidelik.
Die polisiebeampte wat raakgeskiet is, is na die Worcester-hospitaal geneem.
“Hy sterk goed aan. Die koeël het deur sy oop mond gegaan en is by sy wang uit. Dit is al wond wat hy het, niks tande is gebreek nie en sy kakebeen is ook nie as gevolg van die skoot gewond nie.”
Die verdagtes is van die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie aangekla, asook roof en poging tot moord.