
Doofblindheid is ’n kombinasie van visuele- en gehoorverlies; dus ’n multi-sensoriese verlies in een liggaam. Die visuele- en gehoorverlies kan varieer van geringe tot gevorderde of totale visuele verlies en geringe tot gevorderde of totale gehoorverlies. Hierdie verlies veroorsaak toenemende uitdagings wat betref kommunikasie, mobiliteit, toegang tot inligting en algemene dienste. Daar bestaan meer as honderd oorsake vir doofblindheid.
Met geskikte ondersteunings- en opleidingsprogramme en die hulp van kundige mense en tegnologiese hulpmiddels kan die lewe van DoofBlinde mense aansienlik vergemaklik word. Individue beleef egter verskillende uitdagings wat die hoof gebied moet word ten einde so onafhanklik as moontlik te kan funksioneer. Hierdie onafhanklikheid is elke DoofBlinde se hoop op ’n menswaardige lewe.
Mobiliteitsmetodes:
. Die korrekte gebruik van die wit kierie. Daar is selfs elektroniese kieries beskikbaar;
. Gidshonde;
. Spraakaanwysings op selfoon se GPS;
. Persoonlike ondersteuning van assistente;
. Taktiele aanwysings op sypaadjies en by verkeerskruisings; en
. Klank en vibrasieseine by padoorgange en verkeersligte.
Kommunikasiemetodes:
Dit word volgens die graad van visuele- en gehoorverlies bepaal.
. Verbale spraak;
. Gesigsuitdrukkings en lyftaal;
. Naby gebaretaal of deur middel van kontak-in-die-hande-gebaretaal;
. Kontak in die hande: eenhand- of tweehandvingerspel (oorhand of onderhand);
. Handgebare om na iets te wys;
. Liplees vir mense met lae visie;
. Die Tadoma-metode – op hierdie manier plaas die DoofBlinde sy een hand op die pratende mens se gesig met die plasing van die duim op die lippe, die voorvinger op die onderste kakebeen se onderste rand en die oorblywende drie vingers op die stembande. Op hierdie manier kan die DoofBlinde voel wat die ander sê met die beweging van die lippe, onderste kakebeen en die vibrasie van die stembande;
. Skryf van notas op papier, selfoonskerm of skryf in iemand se handpalm in hoofletters;
. Gebruik van prente;
. Lees van Braille;
. Elektroniese kommunikasiehulpmiddele – selfone en rekenaars met beeldvergrotings- en spraakprogramme, Braille display-sleutelborde; en
. Elektroniese lessenaar of draagbare video-vergroting-leesapparate.
Bogenoemde metodes en riglyne vir vrye beweging en kommunikasie is aanduidend dat die DoofBlinde gemeenskap, met die korrekte opleiding en gebruik van hulpmiddels, werklik bemagtig kan word om tot ’n groot mate onafhanklik in die samelewing te funksioneer.
Ondersteuning van ’n DoofBlinde mens in jou lewe:. Onthou om altyd die DoofBlinde met dieselfde menswaardigheid, respek en liefde te behandel soos dit met enige ander mens die geval sou wees. . Streef daarna om die DoofBlinde te bemagtig om so onafhanklik as moontlik te funksioneer. Op hierdie manier word die DoofBlinde ook tot selftrots aangemoedig. . Probeer waar moontlik voorkom dat die DoofBlinde mens weens sy of haar sig- en/of gehoorverlies van die familie en die samelewing uitgesluit en geïsoleer word. Hulle het ook ’n behoefte aan sosiale interaksie en stimulasie.
Hierdie riglyne en raad is veranderlik omdat elke individu sy of haar eie voorkeure en gewoontes het. Respekteer asseblief die DoofBlinde se opinie en voorkeure.