
Plaaslike renjaers van die Mega Oval-ovaalbaanklub het puik vertonings by die pasafgelope Suid-Afrikaanse Ovaalbaankampioenskap in Port Elizabeth gelewer.
Jaers het met verskeie SA titels teruggekeer.
Die klub het 21 renjaers na die kampioenskapsbyeenkoms gestuur en met ses titels huis toe gekom.
In die Heavy Metal-klas het Pieter Human die ZA2-titel verower en Francois Smit die ZA3-titel. Albei jaag met vuurwarm BMW-motors.
Manfred Oehl, in sy haastige V8 Lexus, is die nuwe Suid-Afrikaanse kampioen en volg in sy oupa, Francois du Toit, wat talle SA titels in sy loopbaan verower het, se motorspore.
In die Stockrod-klas het Christo Crouwcamp koning gekraai met sy 1600 VW Golf en hy dra nou die nuwe ZA1-nommer.
In die super vinnige Hotrod-klas het Tyron Els in sy Mazda RX die ZA1-titel huis toe gebring, terwyl Pierre Kotze die ZA3-titel verower het.
Die Mega Oval-klub is super trots op al sy titelwenners, sowel as al die jaers wat die klub by die byeenkoms verteenwoordig het.