Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
3 lewend begrawe toe hulle pype lê
slootredding
Reddingswerkers gisteraand op die toneel. Foto: Facebook/1SecondLater

* Nuwe inligting is bygewerk sedert hierdie berig aanvanklik gepubliseer is.


Die polisie in Kaapstad het 'n geregtelike doodsondersoek gelas nadat drie konstruksiewerkers Maandagaand dood is toe 'n sloot se walle meegegee het en hulle lewend begrawe is.

Die ongeluk het gebeur waar 'n nuwe pad in Sandownweg, Table View, gebou word, sê kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, in 'n verklaring.

"Drie werkers van die konstruksiemaatskappy van onderskeidelik 22, 40 en 53 jaar oud is dood. Hulle was besig om pype in die sloot te lê toe die walle van die sloot op hulle ineengestort het. Ander werkers het tervergeefs probeer om hulle te red."

Die nooddienste in Kaapstad het deurnag gewerk om die lyke van drie mans uit ’n sloot te haal. 

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-nooddienste, sê hulle is net ná 17:00 na die toneel ontbied.

“Toe die reddingswerkers op die toneel kom, het hulle gesien dat drie mense in ’n sloot vasgekeer is nadat die kante ineengestort het,” sê Carelse.

“Die lyke van drie mans is mettertyd uit die sloot gehaal. Die polisie was op die toneel om verder ondersoek in te stel.”

Die toneel van die reddingspoging in Sandown-weg, Table View. Foto: Verskaf
Reddingspanne het deurnag gewerk op die bouterrein langs Sandown-weg in Table View. Foto: Verskaf

Die sloot waarin die mense vasgekeer was, het vermoedelik vol water geraak.

Soos vroeër berig was polisieduikers op die toneel, terwyl brand- en reddingspanne van die Kaapstad-metro bystand verleen het.

’n Reddingswerker wat anoniem wou bly het aan Netwerk24 gesê dat die gat tydens die reddingspoging heeltyd vol water geloop het, ten spyte van pogings om die water uit te pomp.

“Hulle probeer water uitpomp, maar hoe meer hulle die water uitpomp, hoe vinniger raak die gat weer vol,” het die reddingswerker gesê.

Carelse het Maandagaand gesê dat die mans onder die sand, binne die sloot vasgekeer was.

Richard Coleman, woordvoerder van die Kaapstad-verkeersafdeling, het Maandagaand gesê die pad was vir 'n ruk by Sundown- en Sunningdaleweg en by Sandown- en Stoneweg vir verkeer gesluit.

* Al die paaie is intussen weer vir verkeer oopgestel.

Meer oor:  Table View  |  Kaapstad  |  Reddingspoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.