Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Bejaardes bekommerd oor koste van meters
Bejaardes sit en luister ten tyde van ’n konsultasie met gemeenskapslede oor voorafbetaalde kragmeters. Kommer was merkbaar oor wat hulle uiteindelik vir dié meters vir voorafbetaalde krag gaan moet betaal.Foto: Claudi Mailovich

As Zacharia Manentje (78) minder vir elektrisiteit betaal, kan hy groente koop.

“Ons kos is pap en ’n bietjie spinasie, of kool vir afwisseling. Ons eet twee keer ’n week vleis,” verduidelik hy pragmaties oor wat ’n ekstra geldjie vir hom en sy gesin kan beteken.

Zacharia Manentje (78) buite die St. John-kerk in Diepsloot, Soweto. Foto: Claudi Mailovich

In die stadium betaal hy R300 vir elektrisiteit.

Sy vrou is werkloos, hy sorg vir sy dogter, ’n skisofreen, en betaal uit die geld wat hy kon spaar vir sy kleinseun se studies.

Manentje is een van die bejaardes van Soweto wat Woensdag in die klein St. John-kerk in Diepsloot geluister het na Daphne Mokwena, senior bedryfs- en instandhoudingsbestuurder van Eskom in Gauteng. Mokwena het aan hulle verduidelik wat presies Eskom se planne is met die meters vir voorafbetaalde krag in Soweto, wat dit behels en hoe skuld ingevorder gaan word.

Die plan is, volgens Mokwena, om vir die eerste drie jaar waarin iemand ’n meter vir voorafbetaalde krag het, hul skuld aan Eskom op te skort. Indien iemand dan vir drie jaar getrou hul elektrisiteit by ’n amptelike verskaffer koop en nie die stelsel omseil nie, sal die skuld afgeskryf word.

Soweto skuld Eskom sowat R8 miljard.

Daphne Mokwena, senior bedryfs- en instandhoudingsbestuurder van Eskom in Gauteng, spreek die gemeenskap in die St. John-kerk in Diepsloot toe. Foto: Claudi Mailovich

In die stilte in die kerk het Manentje dit onomwonde gestel dat hulle nie die terminologie verstaan wat Eskom gebruik as hy praat van die eenhede wat gekoop moet word nie. Hy was dan deel van ’n generasie wat gedwing is om nie skool toe te gaan nie.

Hy sê dié meters waarop jy eenhede laai, is ondanks die korting steeds uitbuiting.

“As jy ’n instelling in staatsbesit is wat werklik omgee, sal jy dit in ag neem dat mense dit nie kan bekostig nie. My liewe broers en susters, ons moet progressief wees,” het hy gepleit.

Hy het later verduidelik dat hy nie soos baie van die pensioentrekkers van mening is dat ’n vaste tarief van R100 of R50 per maand gehef moet word nie, omdat hy verstaan dit is nie finansieel volhoubaar nie.

Hy sê egter daar moet gekyk word na ’n stelsel waar mense tariewe betaal volgens dit wat hulle verdien.

Soos Manentje lyk die ander bejaardes in Diepsloot – namens wie Tsepo Mhlongo, DA-LP en hoof van die DA se Soweto-Oos-kiesafdeling ’n versoekskrif aan die parlement gerig het – bekommerd as daar gepraat word oor hoeveel hulle maandeliks sal moet betaal.

’n Vrou met ’n strak gesig wou bloot weet: “Hoeveel gaan dit my kos?” Sy het nie ’n woord verder geuiter nie en weer gaan sit.

Eskom het Woensdag aangedui dat die meerderheid van sy verbruikers in Soweto nie betaal nie.

Daar was wel eensgesindheid onder die inwoners by die vergadering dat daar vir elektrisiteit betaal moet word. Wat wel duidelik is, is dat die pensioentrekkers wat by die gemeenskapsvergadering was, óf nie weet presies hoe die voorafbetaalstelsel werk nie, of dat diegene wat reeds die meters gebruik in sommige gevalle moes wag om gehelp te word.

’n Vrou Woensdag tydens die gemeenskapskonsultasieproses in Diepsloot, Soweto. Foto: Claudi Mailovich
Tsepo Mhlongo, DA-LP en hoof van die DA se Soweto-Oos-kiesafdeling.Foto: Claudi Mailovich

Eskom het vroeër Woensdag in die gesamentlike parlementêre komitee oor openbare ondernemings en samewerkende regering en tradisionele sake opdrag gegee dat daar na die gemeenskap teruggekeer word en dat ’n behoorlike proses van openbare deelname plaasvind.

Mhlongo meen dat die gemeenskap, wat sedert 2011 oor die kragmeters vasskop, daarop sal inkoop as die gemeenskap- en politieke leiers dit behoorlik aan verduidelik en op ’n ingeligte manier aan hulle oordra.

“Niks is mahala nie. Jy het hulle gehoor. Hulle is bereid om te betaal,” sê Mhlongo.

Mhlongo draai nie doekies om dat Eskom die sowat R8 miljard se skuld gaan moet afskryf nie – die inwoners van Soweto gaan dit nie nou skielik betaal as hulle sedert die aanvang van demokrasie nie vir hul elektrisiteit betaal het nie. Jy begin met ’n nuwe proses van mense wat betaal en in wese word ’n betaalkultuur gekweek.

“Ons standpunt is dat ’n mens dit (die skuld) moet afskryf, sodat jy op ’n skoon bladsy kan begin.”

As niks met die voorafbetaalstelsel gebeur nie, waarsku Mhlongo dat die mense in alle waarskynlikheid sal teruggaan strate toe en sal betoog.

“Dit kan nie net praat wees nie.”

Aubrey Setshedi, ’n gemeenskapsleier, het dit duidelik aan Eskom gemaak dat hulle eerlik met die inwoners van Soweto moet wees.

“Eskom, ons is bereid om saam met julle te werk. Kom en werk saam met ons.”

Eskom se eindelike teiken is om 180 000 voorafbetaalde meters in Soweto te hê, maar daar is nog net 49 000 geïnstalleer en net 28 000 meters is al omgeskakel.

Meer oor:  Eskom  |  Soweto  |  Elektrisiteit  |  Krag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.