Hannes Engelbrecht (85), ’n bekende inwoner van Bloemfontein en oudonderwyser van die Elizabeth Conradie-skool in Kimberley, is in ’n kritieke toestand in die Mediclinic Bloemfontein.

Hannes Engelbrecht, (85), ’n bekende inwoner van Bloemfontein en oudonderwyser van die Elizabeth Conradie-skool in Kimberley, is in ’n kritieke toestand in die Mediclinic Bloemfontein.
Engelbrecht, wat die laaste ses jaar in die Noorderbloem-aftreeoord in Bloemfontein woon, is ’n geliefde inwoner van die stad. Hy het graag briewe geskryf en graag blomme, dikwels sonneblomme, saam met sy skryfkuns uitgedeel. Hy is dikwels gesien met sy skryfpapier en poskaarte in ’n plastieksak oor die arm
Hy het oor die jare heen kontak met die Britse koningshuis behou deur getrou briewe aan hulle te skryf.
Op die rugkant van ’n foto van homself waar hy in 1957 ’n BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf het, staan: “As ek terugkyk en alles lyk soos gister, is daar in die winterseisoen van my lewe lentebloeisels van onthou – dit blom voortdurend.”
Hy het ook graag geskenkies uitgedeel.
Engelbrecht was een van die getrouste lesers en briefskrywers van Volksblad en het die koerant vroeër gereeld besoek en vir personeel briewe en poskaarte met komplimente en bemoedigende boodskappe geskryf.
Carien Beylefeld, sy broer Klasie Engelbrecht (83) se oudste dogter, sê hulle het as kinders in skoolvakansies gereeld saam met hul geliefde oom Hannes en hul ouma Anna Engelbrecht op die plaas Blaauheuwel in die Koffiefontein-distrik gaan kuier. Hy is op dié plaas gebore.
“Ons het ons liefde vir die buitelewe en stap van oom Hannes gekry.
“Hy het gereeld storieboeke vir my gekoop en by my ’n liefde vir kuns en musiek gekweek, want hy was lief om teaterproduksies en operettes by te woon. Hy het ook ’n ruk lank op Petrusburg skoolgehou voordat hy Kimberley toe is.”
Het het nooit getrou nie en het die buiteland gereeld besoek.
Beylefeld sê haar oom is in die hospitaal opgeneem nadat hy in die aftreeoord geval het. In die hospitaal het hy ’n kiem opgedoen en hartversaking gekry.
Boeije Engelbrecht, ’n broerskind, sê sy oom is ’n streng man wat gedissiplineerd geleef het. “Hy was ’n vrygewige mens met ’n goeie humorsin. Hy was trots op sy geboorteplek, Koffiefontein.”