Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brug-tragedie: Vanderbijlpark-ma tuis ná ongeluk

Die ma van Vanderbijlpark wat ernstig beseer is in ’n motorongeluk toe sy haar na die Hoërskool Driehoek gehaas het nadat ’n loopbrug ineengestort het, is Sondag uit die Mediclinic Emfuleni ontslaan.

Chantelle van den Berg (17) is Saterdag uit die hospitaal ontslaan. Foto: Facebook

Debbie Coetzee (46) was langer as twee weke in die hospitaal.

Kruger Crause, haar man, sê hy en hul kinders is baie bly dat Debbie uiteindelik kan huis toe gaan. Sy het ’n kopbesering opgedoen en skanderings het gewys dat dele van haar brein wat onder meer haar balans aantas, beskadig is.

Chalene Coetzee, Debbie se dogter, sê haar ma se pad na herstel is nog lank. “Sy baklei hard en ons almal is hier om die pad saam met haar te stap.”

Daar lê ook nog ’n lang pad van herstel voor vir die vier leerlinge wat ná die brugramp steeds in hospitale behandel word.

Cheverné Duvenhage (13) en Vanessa Slabbert (18) is albei ernstig beseer en steeds in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton.

Clari Botes (18), word in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel.

Shamoné Steynvaart (14) is in die onderlyf verlam en het verlede week met rehabilitasie begin in die Mediclinic Muelmed-hospitaal in Pretoria se spinale rehabilitasiesentrum.

Chalene Coetzee by haar ma, Debbie, wat Sondag uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Facebook
Vanessa Slabbert is steeds in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton. Foto: Facebook

Dit was Saterdag ’n blye dag toe Chantelle van den Berg (17), ’n gr. 12-leerling, en Nicole Nel (13), ’n gr. 8-leerling, uit die Mediclinic Vereeniging ontslaan is.

Die families van die beseerdes is dankbaar vir elke teken van beterskap van hul geliefdes.

Vanessa se ma, Lizelle Slabbert, sê dokters het Sondagoggend die trageabuis, wat haar dogter gehelp het om asem te haal, verwyder. “Dit gaan so goed, sy haal op haar eie asem. Dit voel of ek wil bars van dankbaarheid. Dit was so lekker om weer my kind se stemmetjie te hoor,” sê Slabbert.

Vanessa moet Maandagoggend weer teater toe gaan dat dokters kan kyk hoe die beserings aan haar maag en derms lyk. “Hulle wil kyk of al die weefsel genoeg bloed kry,” sê Slabbert.

Cheverné Duvenhage is steeds in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton. Foto: Facebook

Cheverné, ’n gr. 8-leerling, is steeds onder sterk verdowing. Dokters het verlede week vir haar ma, Nicola Senekal, gesê haar beserings is só ernstig dat sy dood sou gewees het indien sy nie so ’n sterk gestel gehad het nie.

Yolandi Duvenhage, haar stiefma, het Saterdag ’n briefie vir haar geskryf: “My nooi ons is op dag 16 vandag. Ons mis jou stem, maar weet dit is beter dat jy in ’n diep sedasie moet wees. Genees my nooi. Ons God is groot en is by jou elke oomblik.”

Clari se ma, Ankia Botes, sê dit gaan baie beter met haar. “Sy wil net uit die bed uit en dit gaan verbasend goed.” Clari ontvang fisioterapie en kan al op haar eie sit en vir klein ente loop.

Charmaine en Shamoné Steynvaart. Foto: Facebook
Clari Botes sterk aan in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg. Foto: FACEBOOK
Chantelle van den Berg (17) was baie bly toe sy Saterdag kon huis toe gaan. Foto: Facebook
Meer oor:  Debbie Coetzee  |  Breinbesering  |  Driehoek-Tragedie  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.