Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brugtragedie: 2 meisies ontmoet held se pa

Die twee meisies wat Vrydag die dood vrygespring het toe Roydon Olckers (17) hulle uit die pad van ’n vallende betonblok by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark gestamp het, het Dinsdagoggend hul jong held se pa ontmoet.

Vier leerlinge, Roydon, Marli Currie (13), Jandré Steyn (13) en Marnus Nagel (16), het gesterf nadat ’n loopbrug tussen klaskamers ingestort het. Meer as 20 kinders is beseer.

Annarie du Plessis van die Go Purple-stigting, wat die getraumatiseerde kinders en hul ouers bystaan, sê Caitlin Harris en Denise Fourie (albei 13) was Dinsdagoggend nog baie getraumatiseerd, maar dit gaan aansienlik beter met hulle sedert hulle met Donovan Olckers, Roydon se pa, gesels het.

brugtragedie
Leerlinge en hul ouers het Dinsdag traumaberading by die skool ontvang Foto: Felix Dlangamandla

Die meisies het glo op die afspraak aangedring.

Roydon was Caitlin en Denise se groentjiekonsert-afrigter en het hulle na veiligheid gestamp voordat hy Vrydag self onder die swaar betonblok vasgekeer was.

Caitlin het Dinsdag snikkend in 'n onderhoud vertel wat gebeur het.

“Ons het almal ná die saalopening by die trappe gestaan. Toe het hy ons getik, toe draai ons om, toe fluister hy iets, maar ons kon nie mooi hoor wat hy sê nie. Die volgende oomblik vat hy ons aan ons skouers en stamp ons dat ons op die trappe val. Maar toe ons weer kyk, toe lê hy op die grond," het Caitlin snikkend aan eNuus vertel. "Ek is baie dankbaar vir hom.”

Denise sê sy het nog anderkant toe gekyk: "Toe hoor ons die geluid en die gille, en toe draai ons om en toe het alles inmekaargesak. Ek het dadelik begin huil.”

 Sy sê dit was ’n groot verligting om met Roydon se ouers te praat.

“Ek het nie geweet hoe hulle daaroor voel nie . . . "

Roydon se pa vertel

“Dis eenvoudig wie Roydon is,” het Olckers by die skool gesê. “Hy het dit gedoen omdat dit was wat hy moes doen.”

Olckers het weer die gebeure van Vrydag herroep: van die oomblik toe sy vrou hom gebel en gesê het dat iets by die skool ingestort het “en ek moet net gaan kyk of my laaities oukei is”.

Sy het genoem dat dit nie goed gaan met hul middelkind, Vincent (gr. 8), nie.

Soos talle ander ouers het Olckers skool toe gejaag. Hy het Vincent huis toe gevat en is terug skool toe om Roydon te gaan soek.

“Ek kan nie onthou wie nie, maar iemand het gesê hy is onder die puin, maar hy het ’n pols en haal asem . . .”

Hoewel Olckers toe nie eens seker was waar presies die loopbrug ingestort het nie, het hy by die skoolterrein ingehardloop om sy kind te gaan help.

Steeds was hy oortuig Roydon sal “orraait wees”.

“Ons familie . . . ons gesin . . . sulke erge goed het nog nooit met ons gebeur nie. Ek het daai dag gedink: ‘Ag, nee wat, hy is oukei. Hy het dalk ’n been of ’n ding gebreek, maar ons gaan die blok oplig en hom uittrek. Hy gaan dalk ’n rukkie vat om gesond te word, maar dan gaan hy orraait wees.’ ”

Donovan Olckers
Donovan Olckers Foto: Felix Dlangamandla
Netwerk24 Foto: Felix Dlangamandla

Olckers sê mense op die toneel het hom eers probeer weghou van die puinhoop.

“Ek kry toe ’n oproep van my vrou wat sê ’n polisieman soek my dringend. Hy ken my en my gesin. Ek het hom gebel en hy het gevra waar ek is.

“Hy was ook by die skool. Toe hy my sien, het hy my geroep en gesê hy is jammer. Roydon is dood.”

Donovan sê hy kan nie die emosie beskryf wat deur ’n pa se kop gaan wanneer hy hoor sy kind is dood nie.

“Ek was geskok, nee, ek was baie kwaad. Ek het my vuiste stukkend geslaan teen die sement. Ek het geskreeu: ‘Nee, nee, nee, nee! Dit kan nie wees nie!’ Ek het daar rondgehardloop; ek het dit basies verloor. Dis hoe ek op daardie oomblik gevoel het.”

Tog hou die gesin kop bo water, sê hy.

Olckers sê hy het besef hoe aardse besittings op so ’n dag onbelangrik word.

“Al wat ek vir ander kan sê, is: Kom nader aan God, bid en word stil. Roydon sou dit ook so wou gehad het.”

Roydon word ook deur ’n jonger broer, Justin (gr. 7), oorleef.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.