Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brugtragedie: Departement sal nou help ‘waar nodig’

Die Gautengse departement van onderwys het Sondag gesê die beseerde leerlinge van die Hoërskool Driehoek op Vanderbijlpark sal “waar nodig” finansieel bygestaan word.

Nicole Nel
“Nog n pragtige glimlag,” lui die boodskap by ’n foto van Nicole Nel (13) op Facebook, waar sy in die Mediclinic Vereeniging aansterk. Foto: Facebook/Gebedsgroep vir Driehoek Kinders

Vier leerlinge is dood en meer as 20 beseer toe ’n loopbrug wat twee geboue verbind op 1 Februarie ineengestort het.

Talle leerlinge is ná die tragedie in hospitale opgeneem en party se mediese rekeninge beloop al derduisende rande.

Die departement se kommentaar volg op reaksie van ouers nadat Rapport berig het Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, sing nou ’n ander deuntjie ná ’n aanvanklike belofte van hulp. Lesufi het op ’n perskonferensie ure ná die voorval gesê: “Alle leerlinge moet by hospitale gehelp word, ook dié sonder mediese fondse. Die departement sal die onkoste dra.”

Volgens Rapport  het Lesufi se woordvoerder, Steve Mabona, vandeesweek gesê dat die skool self sal moet pa staan vir die mediese onkoste van beseerde kinders.

Mabona het egter Sondag aan Netwerk24 gesê dat die departement nie bedoel dat hy die finansiële las van mediese onkoste op die skool afskuif nie.

Hy het verduidelik dat kinders met mediese fondse uit die aard van die saak reeds daardie voordeel trek, maar gesê wanneer ’n kind nié ’n mediese fonds het nie, moet die ouers die skool se beheerraad kontak, wat dan met die departement in verbinding sal wees (oor hoe die departement finansieel kan bydra).

Op ’n vraag oor mediese fondse wat nie volledig uitbetaal nie, het Mabona ouers aangeraai om dieselfde roete te volg om die departement te betrek. “Hulle moet deur die skool se beheerraad werk.”

Sifiso Tshabalala (19) en sy ma, Zandile (42), Vrydag in die Mediclinic Emfuleni in Vanderbijlpark, waar hy behandel word nadat hy in die brugramp by die Hoërskool Driehoek beseer is. Foto: Deon Raath

Intussen is daar blye tyding nadat Vanessa Slabbert (gr. 12) Sondag, volgens ’n boodskap van haar ma, uiteindelik uit haar koma ontwaak het én boonop haar kop beweeg het toe haar ma met haar praat.

Dit gaan ook beter met Sifiso Tshabalala (18) nadat hy ná ’n paar dae by die huis Donderdag weer in die waakeenheid van die Mediclinic Emfuleni in Vanderbijlpark opgeneem is weens ’n ernstige rugbesering.

Annari du Plessis van die Crossroads Trauma & Justice-sentrum, wat die gemeenskap sedert die tragedie bystaan, sê Sifiso het ’n haarbreuk, “maar dis nie só dat hulle moet opereer nie”.

Hy is intussen ontslaan en het streng opdrag gekry “om homself op te pas”.

Cheverné Duvenhage (13) gesels weer en die dreineringspyp is uit haar neus gehaal, het haar stiefma, Yolandi Duvenhage, Sondag bevestig.

Dit volg ná ’n effense terugslag die naweek nadat haar maag, wat reeds verlede week geopereer is, Saterdag weer geopereer moes word omdat wonde wat vroeër geheg is, losgetrek het.

Cheverné se heupe en van haar rugwerwels is in die ongeluk gebreek. Sy het ook inwendige beserings opgedoen en verskeie voetbeentjies gebreek.

Cheverné Duvenhage (13). Foto: Facebook

Haar voetoperasie Saterdag was baie suksesvol, sê Yolandi.

Volgens haar gaan dit “oukei”, maar Cheverné het baie pyn – veral ná die twee operasies Saterdag.

Sy mag vir die volgende twee of drie dae geen vaste kos eet nie sodat haar maag kan herstel.

Nicola Senekal, Cheverné se ma, het op Facebook geskryf die heupe en rugwerwels gaan nie geopereer word nie – “ons gaan dit self laat vasgroei”.

Tasha Opperman (gr. 8) het Sondag haar eerste treë gegee.

Corien Nel, ma van Nicole (13), het ’n foto van haar dogter op Facebook geplaas waar sy in die Mediclinic Vereeniging van oor tot oor glimlag.

Milita Weber (17) se ma, Venessa, het bevestig haar dogter is steeds in die waakeenheid van die hospitaal, maar kon Sondag van die een kant van die bed na die ander kant loop.

Debbie Coetzee
Debbie Coetzee

Volgens Du Plessis is Debbie Coetzee, die ma wat in ’n ernstige motorongeluk was toe sy van die Driehoek-tragedie verneem het, ook Sondag uit die waakeenheid ontslaan en sterk in ’n gewone saal aan.

Só werk Maandag by die Hoërskool Driehoek

Jan Toerien, die adjunkhoof, het gesê Maandag gaan ’n rustige skooldag wees sodat die leerlinge geleidelik daaraan gewoond kan raak om onderrig in tente te kry.

Hy sê die skool begin om 07:30 met ’n saalperiode op die paviljoen, waar die skoolhoof, Hein Knoetze, met hulle gaan praat.

Dan sal die kontaksessies van ’n halfuur elk voortgaan, totdat die skool om 12:00 uitkom.

“Ons gaan agt van ons minstens 36 klaskamers gebruik. Die res van die leerlinge gaan in ongeveer 28 tente geakkommodeer word. Daar is ook bykomende tydelike toilette aangebring, asook tydelike kantore vir die skoolhoof, twee adjunkhoofde en twee sekretaresses.”

Hy sê Sasol, wat die tente verskaf het, het ook water en witborde by die skool laat aflewer.

Volgens Toerien gaan die volgende twee tot drie weke se Dinsdae en Donderdae ook effens korter wees omdat die toetsperiodes gaan wegval. Dié toetse sal later ingehaal word.

Teen Maandag 15:00 sal die skool ’n gesamentlike roudiens by die Kompasgemeente buite Vanderbijlpark vir die ontslape Marli Currie (14), Jandré Steyn (13), Roydon Olckers (17) en Marnus Nagel (16) hou. Volgens Toerien word minstens 2 500 rouklaers verwag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.