Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Brugtragedie: Leerling moet nóg ’n operasie ondergaan

’n Matriekleerling aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark wat Vrydag presies ’n maand gelede ternouernood aan die dood ontkom het toe ’n loopbrug by die skool ineengestort het, moet Saterdag die soveelste operasie ondergaan.

Vanessa Slabbert (18) is die afgelope maand in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton. Sy het ernstige beserings aan haar maag en pelvis opgedoen.

Vanessa Slabbert (18) moet ’n operasie aan haar gebreekte pelvis ondergaan. Foto: FACEBOOK

Haar ma, Lizelle, sê sy was Donderdag vir ’n skandering wat gewys het sy het ’n infeksie in die maagwond opgedoen. ’n Prosedure om die infeksie teen te werk, is Vrydagoggend in die waakeenheid gedoen.

Vanessa moet Saterdag ’n operasie vir haar gebreekte pelvis ondergaan.

“Solank sy vordering toon, sien ons nie die operasie as ’n terugslag nie. Dit help nie ons raak depressief nie. Ons fokus nou net op ons poppie se beterskap,” sê Lizelle.

Dokters het vroeër die week gesê Vanessa sal wanneer sy sterk genoeg is, oorgeplaas word na ’n rehabilitasiesentrum in Auckland Park in Johannesburg. Sy sal minstens ses tot agt weke hier moet aansterk.

Cheverné Duvenhage (13), ’n gr. 8-leerling, is ook steeds in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton.

Sy is ’n week gelede van die ventilator afgehaal en haal nou op haar eie asem.

Elmarie Senekal, haar ouma, sê dit is wonderlik dat sy self ’n bietjie pap kan eet en vrugtesap kan drink.

Cheverné het ook ernstige beserings aan haar maag opgedoen. Sy sal later plastiese chirurgie moet ondergaan om die maagwond toe te maak.

Clari Botes (18), ’n gr. 12-leerling, wat beserings aan haar een heup en been opgedoen het, het intussen met rehabilitasie begin. “Dit gaan baie beter met haar,” sê haar ma, Ankia Botes. Sy kan al self van ’n bed af in ’n rolstoel kom.

Cheverné Duvenhage (13) by haar ouma, Elmarie Senekal. Foto: FACEBOOK

Clari kry angsaanvalle ná die brugtragedie.

Shamoné Steynvaart (14), ’n gr. 9-leerling, is verlam ná die voorval. Sy sterk aan in die Mediclinic Muelmed in Pretoria se spinale rehabilitasie-eenheid.

Vier leerlinge is dood en 22 beseer in die tragedie.

Roydon Olckers (17), Marli Currie (14) en Jandré Steyn (13) is op 1 Februarie dood toe die loopbrug, wat twee skoolgeboue verbind het, ineengestort het.

Magnus Nagel (16) is twee dae later aan veelvuldige beserings in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton dood. Die ondersoek van die departement van onderwys in Gauteng oor wat die oorsaak van die ineenstorting was, is nog nie voltooi nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.