Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Cwele bekommerd oor Lindela ná Bosasa-likwidasie

Dr. Siyabonga Cwele, minister van binnelandse sake, is besorg oor bedrywighede by die Lindela-repatriasiesentrum en wil nie hê dit moet onderbreek word ná die vrywillige likwidasie van Bosasa nie.

Dié omstrede dienstemaatskappy, wat deesdae as African Global Operations bekend staan en onlangs om vrywillige likwidasie aansoek gedoen het, bestuur Lindela namens die departement.

As dit misluk, sal ons verdere stappe moet doen deur ons eie eise by die likwidateurs in te dien.

Cwele het Dinsdag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake gesê die departement se grootste bekommernis is die “vrywillige likwidasie van ’n maatskappy wat nie insolvent is nie”.

Hy het daarop gewys dat die kontrak met Bosasa spesifiek opgestel is vir die verskaffing van dienste aan Lindela. “Ons grootste bekommernis is dat ons as ’n staat in wanorde gelaat word deur watter likwidasieprosesse ook al omdat ons sonder ’n plek vir die aanhouding van onwettige buitelanders sit.”

Cwele het aan die komitee gesê hy het Maandag aan die likwidateurs geskryf en die departement se kommer uiteengesit.

“Ons het basies voorwaardes aan hulle gestel dat hulle teen môre (Woensdag) moet reageer en die versekering moet gee dat ons bedrywighede nie onderbreek sal word deur enige likwidasieproses nie.

“As dit misluk, sal ons verdere stappe moet doen deur ons eie eise by die likwidateurs in te dien. Ons het ook kennis geneem dat hulle voorlopige likwidateurs is. Ons hou die proses fyn dop . . . wanneer belanghebbendes en krediteure geroep sal word,” het Cwele gesê.

African Global Operations het ’n vyfjaarkontrak met die departement van binnelandse sake om die sentrum namens hom te bestuur. Die kontrak strek van 2015 tot 2020.

Cwele sê weens die grootte van Lindela is dit dié plek waar mense aangehou word in afwagting op deportasie.

Dit kos die departement R9,5 miljoen per maand, waarvan net meer as R1,3 miljoen vir huurgeld is. Die ander geld word onder meer gebruik vir mediese dienste, kos en veiligheid.

Meer oor:  African Global Operations  |  Bosasa  |  Likwidasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.