Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
FAK nooi Britse LP om konsentrasiekamp te besoek
Jacob Rees-Mogg

Die FAK het ’n uitnodiging aan ’n lid van die Britse parlement gerig om Suid-Afrika te besoek nadat hy vroeër gesê het konsentrasiekampe het die “minimum” lyding veroorsaak.

Jacob Rees-Mogg, Britse LP, het verlede week op BBC One se program Question Time konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog probeer regverdig deur te vra “waar anders” sou dié vroue en kinders dan woon terwyl die Boere in die oorlog geveg het.

Rees-Mogg het ook aangevoer dat die dodetal in konsentrasiekampe presies dieselfde was as in Glasgow in Skotland tydens dié oorlog van 1899 tot 1902.

Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het Rees-Mogg versoek om die land en meer spesifiek die Irene-konsentrasiekamp en Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein te besoek om hom van die feite te vergewis.

In die uitnodiging stel Langner die feite oor die vroue en kinders: “Hulle is gewelddadig van hul plase verwyder en al hul vee is gekonfiskeer.”

Langner skryf een van die stigterslede en ook die eerste voorsitter van FAK, dr. NJ van der Merwe, was sedert 11-jarige ouderdom in die Norvalspont-konsentrasiekamp in die Noord-Kaap aangehou. Van der Merwe, wat later ’n NG predikant geword het, het in besonderhede van hul swaarkry vertel.

“Met wintertemperature wat onder vriespunt gedaal het en met tente as die enigste skuiling, moes hy baie van sy vriende in sy kinderjare begrawe,” lui die brief verder.

Langner skryf hoewel die gesprek nie oor die Anglo-Boereoorlog gegaan het nie, het Rees-Mogg geskiedkundige feite en die nalatenskap van sir Winston Churchill (eertydse Britse premier) verdedig teen die agtergrond van die verdraaiing van die geskiedenis en geskiedkundige feite.

Danie Langner

“Die waarheid is dat baie Afrikaners hoë agting vir Churchill en sy leierskap gehad het en sy nalatenskap respekteer.”

Langner sê daar was vir meer as ’n halwe eeu ’n spesiale band tussen Churchill en Afrikaners.

“Selfs Churchill, in sy skrywe, gedurende en ná die Anglo-Boereoorlog het die Britte voor stok gekry vir hul haat jeens die Boere en het ’n beroep op hulle gedoen om ‘grootmoedig en verdraagsaam’ te wees.

“Op presies dieselfde manier hoe hy behandel is as ’n gevangene van die Boere.”

Langner skryf aan Rees-Mogg dat hy as ’n leier en politikus wat tradisie, familiewaardes en geestelike etiek steun en ’n liefde vir sy land openbaar, sal verstaan hoekom Afrikaners seergemaak en verward voel oor sy opmerkings – opmerkings waarin “ afbreuk gedoen word aan en ’n waninterpretasie is van ’n geskiedkundige gebeurtenis wat die kern van ons nasie gevorm het”.

“Terselfdertyd gee ons toe dat jou opmerkings oor die konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog waarskynlik nie doelbewus kwetsend was nie.”

Langner sê in plaas daarvan om negatiewe kommentaar te lewer, nooi hulle Rees-Mogg en sy gesin hartlik uit na Suid-Afrika as geëerde gaste om die onthulling van die Care-monument by die Irene-konsentrasiekamp op 12 Oktober by te woon.

Hy sê hulle hoop van harte dat Rees-Mogg die uitnodiging om Suid-Afrika te besoek ernstig sal oorweeg en hulle die geleentheid sal gun om hom na die Irene-konsentrasiekamp en die Nasionale Vrouemonument te neem.

“Hopelik sal só ’n besoek nie net tot beter begrip oor die konsentrasiekampe en ons gedeelde verlede lei nie, maar ook tot waardevolle gesprekke oor die talle kulturele, politieke en ekonomiese uitdagings waardeur ons gemeenskap vandag in die gesig gestaar word,” sluit Langner die uitnodiging af.

Meer oor:  Jacob Rees-Mogg  |  Danie Langner  |  Fak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.