Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Familie van Small vra tyd om te rou
James Small oud-Springbokrugbyspeler, is Woensdag in Johannesburg dood. Hy was 50 jaar oud. Foto: Facebook

Die gebroke familie van die oud-Springbokrugbyspeler James Small (50) het mekaar Donderdag in Johannesburg vertroos ná sy onverwagse dood.

Gavin Houlston, Small se swaer wat met sy suster Kelly getroud is, sê almal is uiters geskok.

“Ons as familie vra asseblief vir tyd om te rou.”

Hy sê Small se ma, Vourn, het Woensdagaand laat uit Kaapstad in Johannesburg aangekom. Sy is te hartseer om oor haar seun se skielike dood te praat en het navrae na Houlston verwys.

Vourn het Woensdag gesê Small is vermoedelik aan ’n hartaanval dood. Houlston kon nie sê wat die presiese gebeure rakende Small se dood is nie.

“Die familie fokus nou op sy twee kinders se hartseer en sal Donderdagaand byeenkom om oor begrafnisreëlings te praat.”

Small het in Parkhurst in Johannesburg gewoon en het Woensdag inmekaargesak. Dit is nie duidelik presies waar dit gebeur het nie.

Hy was glo by sy dogter, Ruby (14), oor wie hy gedeelde toesig het met Christina Storm Nel, met wie hy vroeër in ’n jare lange verhouding was. Hy het ook ’n negejarige seun, Caleb, uit ’n ander verhouding.

Chris Storm, Storm Nel se pa, sê sy dogter is “so geskok en hartseer, sy kan met niemand praat nie”.

Hy sê sy dogter het Woensdagaand eers ná 23:00 in Johannesburg aangekom om by Ruby te wees. Hulle gaan in ’n gastehuis tuis. Storm Nel woon in die Oos-Kaap en is met Paul Nel getroud.

Volgens Storm het Small Woensdag inmekaargesak en is hy per ambulans na ’n hospitaal in Johannesburg gebring waar hy dood verklaar is. Storm kon nie sê in watter hospitaal nie.

“Hy was ’n goeie mens en het baie vir sy medemens omgegee,” sê Storm.

’n Oomblik van stilte vir James Small by die Pirate Rugby-klub in Greenside, Johannesburg, waar hy met afrigting gehelp het.Foto: Twitter/@romyblomkamp

Llewellyn Prince berig Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het Donderdagoggend op ’n nuuskonferensie by die parlement namens die kabinet sy medelye met die naasbestaandes van Small uitgespreek.

“Hy was deel van die Springbokspan wat die Rugbywêreldbekertoernooi in 1995 op eie bodem gewen het.”

Nocks Seabi, hoofsweep van die ANC-studiegroep oor sport, kuns en kultuur, het ook sy medelye met Small se familie betuig.

Die regering het Woensdag op Twitter sy skok oor Small se dood uitgespreek.

James Small (50), oud-Springbokrugbyspeler en Brian Mitchell, Suid-Afrikaanse bokskampioen. Foto: Facebook

Tsepo Mhlongo, DA-woordvoerder oor sport, sê in ’n verklaring Small se heldhaftigheid as deel van die legendariese 1995-Wêreldbekerrugbyspan sal altyd onthou word.

“Suid-Afrika het ’n groot rugbyheld verloor.”

Huldeblyke stroom steeds van oral in ná Small se dood.

Darren Scott, bekende radioaanbieder en vriend van Small, sê dit was “een van die grootste voorregte van my lewe om jou as vriend te hê”. Hy sê hy sal sy bes doen om Small se nalatenskap te laat voortleef.

Ook die bokslegende Brian Mitchell is geskok oor Small se onverwagse dood.

“Ek het nog verlede week met jou gepraat. Jy was ’n legende op en van die rugbyveld.”

Joel Stransky, Small se spanmaat in die 1995-Wêreldbekerspan, het getwiet: “Jy was ’n ware legende van die lewe self.”

Small was onlangs as afrigter betrokke by die Pirates-rugbyklub in Greenside in Johannesburg. Dié rugbyklub het ’n foto getwiet van die span wat Woensdagaand op die rugbyveld ’n oomblik van stilte vir Small gehou het.

Meer oor:  James Small  |  Rugbyspeler  |  Huldeblyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.