Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma red vroeggebore baba nadat sy ophou asemhaal
Portia Marcus en Britney. Foto: Verskaf

’n Vroeggebore babameisie wat tuis ophou asemhaal het, is gered danksy haar ma wat by verpleegpersoneel geleer het hoe om ’n baba kunsmatig by te bring.

Britney Marcus van Blackheath in Kaapstad is op 19 Januarie vanjaar op 26 weke in die Tygerberg-hospitaal gebore. Sy het slegs 700 g geweeg.

Op 10 Mei vanjaar, minder as ’n maand nadat Britney uit die hospitaal ontslaan is, was sy en haar ma, Portia Marcus (38), tuis toe Britney skielik ophou asemhaal het.

Marcus sê by navraag ’n mens moet dié soort babas fyn dophou en kort-kort kyk dat alles reg is.

Ná Britney se geboorte is Marcus deur die hospitaal se verpleegpersoneel, ook bekend as “kangaroe-moedersorgverpleegsters”, gewys hoe om kardiopulmonêre resussitasie op haar baba toe te pas. Dit sluit mond-tot-mond-asemhaling en borsdruktegnieke in.

Die ‘kangaroe-moedersorgverpleegsterkorps’ by die Tygerberg-hospitaal saam met Portia Marcus en Britney. Agter is Fiela Abrahams, bedryfsbestuurder, Heather Saizs, ingeskrewe verpleegassistent, en Elizabeth Avontuur, ingeskrewe verpleegster. Foto: Verskaf

Marcus kon Britney danksy hierdie metodes gelukkig vinnig bybring.

“Ek het groot geskrik, maar kopgehou. Agterna het hulle vir my gesê ek kan ’n verpleegster in die kraamsaal word!” sê sy.

Britney is ná die voorval hospitaal toe geneem. Sy was sowat ’n week lank aan ’n ventilator gekoppel. Britney se suster, Cyra, nou 12, is ook vroeg gebore.

“Omdat ek dit al met Cyra deurgegaan het, was dit dié keer makliker met Britney,” sê Marcus.

“Sulke babas het baie aandag nodig. Jy moet heeltyd kyk hoe hulle reageer. Al wat ek kan sê, is dat ’n ma haar baba ken. As iets nie vir jou reg lyk nie, kry dadelik hulp.”

Die hospitaal sê in ’n verklaring vroeggebore babas loop die gevaar om infeksie op te doen of ’n slagoffer te word van wiegiedood nadat hulle ontslaan word.

Dié sindroom kom voor wanneer babas jonger as ’n jaar oud skielik doodgaan en geen oorsaak vir die sterfte gevind kan word nie. Selfs gesonde babas kan hieraan sterf.

Volgens Marcus lewe Britney danksy die verpleegspan by die hospitaal, veral Heather Saiz, ’n ingeskrewe verpleegassistent, wat vir haar die tegnieke vir die kardiopulmonêre resussitasie van babas gewys het.

“Ek is baie dankbaar. My kind leef en dit is ’n wonderwerk van die Here af,” sê sy.

Wat ma’s en families met vroeggebore babas moet weet:

• Hoe om kardiopulmonêre resussitasie op babas toe te pas.

• Om te rook in ’n huishouding met ’n vroeggebore baba is ’n risikofaktor vir wiegiedood en longontsteking.

• Borsvoeding beskerm babas teen wiegiedood en algemene infeksies soos diarree en longontsteking.

• Vroeggebore babas moet roetine-inentings kry omdat hulle ’n groter gevaar loop om infeksie te kry.

• Besoekers aan die huishouding moet hul hande was voordat hulle aan ’n vroeggebore baba raak. Mense met griepsimptome moenie die baba besoek of aan die kind raak nie.


Meer oor:  Baba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.