Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
SA vrou sterf op Everest
Marisa Strydom en haar man, Robert Gropel, in 2015.

’n Oud-Tukkie is Saterdag dood nadat sy die piek van berg Everest bereik het.

Dr. Marisa (Maria) Strydom (34) en haar man, dr. Robert Gropel, het die afgelope agt jaar berge op vyf vastelande geklim en aan padwedlope deelgeneem.

Hulle het hul huweliksherdenking op 6 Mei in die Himalaja-bergreeks gevier.

Maritha Strydom het haar dogter se dood op Facebook bevestig. “Ek is te platgeslaan om te kommunikeer,” het sy aan vriende en familie geskryf en ’n foto van haar met haar dogter op ’n plesierboot geplaas.

Gropel het volgens sy pa, Heinz, pulmonêre edeem wat verwant is aan hoogtesiekte en is met ’n slee afgebring. Hy sou per helikopter na Katmandoe gebring word en dan per vliegtuig na Singapoer of Melbourne. 

Die Monash-sakeskool in Melbourne, Australië, waar Stry­dom die laaste paar jaar klas­gegee het, het vroeër vanjaar 
’n artikel gepubliseer waarin Strydom sê sy en haar man is albei veganiste (dit wil sê hulle eet geen diereprodukte nie) en het die uitdaging daarom aangepak. “Dit blyk mense het die skewe idee dat veganiste ondervoed en swak is,” het Strydom in die artikel gesê. “Deur die Sewe Pieke te klim, wil ons bewys dat veganiste enigiets én meer kan doen.”

Die Sewe Pieke verwys na die sewe hoogste bergpieke op sewe vastelande.

Marisa Strydom en haar ma, Maritha.

Strydom en Gropel, ’n veearts, het al Kilimandjaro in Tanzanië, Denali in Alaska, Aconcagua in Argentinië en Ararat in Turkye geklim.

Strydom is oorspronklik van Pretoria, waar sy in 2003 ’n handelsgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf het. Sy het Gropel in 2007 ontmoet en is in 2009 met hom getroud.

Sy het Saterdag blykbaar tussen kamp 4 en 3 siek geword nadat die groep van die piek na die laer kampe geloop het, het die sjerpa Pasang Phoerba aan The Guardian gesê. Enkele ure tevore, op die Vrydag, is die Nederlander Eric Arnold in dieselfde ekspedisie dood. 

“Nadat Strydom die piek bereik het, het sy baie swak gevoel en min energie gehad . . . dit is tekens van die siekte wat ’n skielike wisseling in druk bo seespieël (hoogtesiekte) meebring,” het Phoerba gesê.

Hy het Strydom én Arnold se dood daaraan toegeskryf.

Strydom se familie het op die internet van haar dood gelees.

“Ek het ’n berig in Himalayan Times gesien wat sê my suster is op Everest dood en dit was die eerste woord wat ek daarvan gehoor het,” het Strydom se suster Aletta Newman aan The ­Guardian gesê.

Lede van die ramp­spoedige Everest- ekspedisie klim teen die piek op. Marisa Strydom en Eric Arnold is kort hierna dood.

Die familie vrees nou ook vir Gropel se lewe. “Ek bid vir Rob se lewe,” het Maritha geskryf.

Maritha, wat in Brisbane, Australië, woon, het op Facebook gedetailleerde dagboek gehou van Strydom en Gropel se bewegings, wat sy met behulp van die seine van hul satellietfoon gevolg het. 

Die tydverskil tussen Bris­bane en Everest is twee uur.

Volgens die tydlyn op Maritha se Facebook het Strydom en Gropel die laaste tog na die bergpiek op 19 Mei aangepak. Die sein het van halfpad tussen kamp 4 en die Hillary-punt (baie na aan die Everest-piek) gekom.

Die paartjie het die piek volgens Phoerba bereik en Maritha het Saterdag 12:49 nuus oor hul bewegings gepubliseer.

“Yay, het nou net ’n sein van Marisa en Robert se satellietfoon gekry. Volgens die sein is hulle terug by kamp 4!” het Maritha geskryf.

Min het sy geweet haar dogter sou enkele ure later sterf.

Nog ’n Australiër in Strydom en Gropel se ekspedisie, Alyssa Azar (19), het die jongste mens geword wat die piek bereik het.
Strydom en Arnold is die eerste sterfgevalle sedert Everest vanjaar weer vir toeriste oopgestel is. Alle ekspedisies is in 2014 gekanselleer toe 16 sjerpas in ’n sneeustorting dood is, en weer in 2015, toe ’n 7.8-aardbewing Nepal getref het. Die gevolglike sneeustorting het 19 klimmers by die basiskamp geëis.

Strydom het voor haar vertrek na Everest gesê sy sal waarskynlik die meeste uitsien na ’n warm stort wanneer sy van die berg af terugkeer.

“En dan, afhangend van of ons die piek bereik (net 30% van die pogings is suksesvol), sal ek sekerlik na ’n nuwe avontuur soek, dalk om Everest weer uit te klim of om die berg Vinson in Antarktika te besoek.”

Meer oor:  Everest
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.