Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Pretorius vereer vir bydrae tot Afrikaans
prys
Prof. Irma Eloff, voorsitter van Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het Woensdagaand in Stellenbosch die Jan H Maraisprys vir 2019 aan prof. Fransjohan Pretorius oorhandig. Hier is van links prof. Irma Eloff, prof. Andreas van Wyk, prof. Fransjohan Pretorius, prof. Rachel Jafta en prof. Wim de Villiers. Foto: Jaco Marais

"Ons moet daarteen waak dat die Afrikaner se meesterverhaal word soos ’n klippie wat jy in ’n plaasdam gooi – dit maak vir ’n tyd lank rimpels, maar die rimpels skuif uit en verdwyn mettertyd.

“Ons meesterverhaal mag nie verdwyn nie,” het prof. Fransjohan Pretorius, bekende historikus, skrywer en akademikus, Woensdagaand gesê toe hy die Jan H. Marais-prys ontvang het vir sy bydrae tot Afrikaans, veral in ’n reeks boeke oor die Anglo-Boereoorlog wat hy geskryf en saamgestel het.

“Ons hou suksesvolle woordfeeste – en ek is besonder dankbaar daaroor – maar as nagraadse akademiese Afrikaans opdroog, laat dit ’n leemte wat nie weer gevul gaan word nie. En daarsonder is Afrikaans veel, véél armer,” het Pretorius gesê op die oorhandigingsgeleentheid in die Stias-instituut op Stellenbosch.

Die doel van die prys is erkenning vir ’n uitstekende bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte.

prof. fransjohan pretorius
Prof. Fransjohan Pretorius Woensdagaand met sy toekenning. Foto: Jaco Marais

“Juis in hierdie tye wanneer ons taal op hierdie vlak bedreig word deur enge en kortsigtige besluite deur verskillende owerhede en instellings, moet die ongelooflike prestasies wat reeds in Afrikaans behaal is, erken en gevier word,” het prof. Andreas van Wyk, voorsitter van die keurkomitee, by die geleentheid gesê.

Van Wyk het Pretorius as ’n “historikus van internasionale formaat” bestempel.

“Hy is die outeur of mede-outeur van meer as 20 boeke, 35 hoofstukke in boeke en 50 navorsingsartikels. Op talle plaaslike en oorsese vakkundige konferensies het hy vakgenote in sy insigte laat deel, veral oor die maatskaplike aspekte van die wapenstryd tussen Boer en Brit wat almal in ons land tot vandag toe raak.”

Van Wyk het gesê Pretorius het ook ’n betekenisvolle bydrae tot Afrikaans as akademiese taal gelewer deur studieleiding op magister- en doktorsgraadvlak, en sy redakteurskap van Kraal Histories, ’n inisiatief om goeie en leesbare MA-verhandelinge en doktorsgraadproefskrifte in Afrikaans uit te gee.

“In ons breër kultuurlewe speel hy as lid en raadslid van die Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n belangrike rol,” het Van Wyk gesê.

“Soos niemand meer oor die Afrikaners se bestaan en doen en late kan skryf sonder om na ons eerste pryswenner, Hermann Giliomee, te verwys nie, so kan niemand hom meer, in welke taal ook al, oor die Anglo-Boereoorlog uitlaat sonder om deeglike kennis van Fransjohan Pretorius se werk te neem nie.

“Mag hy nog lank op kommando bly!”

“Om by ’n kollega se dogtertjie ’n woord te leen: my studeerkamer was dikwels ’n toedeurkamer. Omdat my vrou soos ek akademikus was en steeds is, is ek dankbaar vir die ruimte wat sy my oor die jare gegun het en steeds gun om my passie vir geskiedenis uit te leef,” het Pretorius gesê.

Die Het Jan H. Maraisprys

Die Het Jan H. Maraisprys is in 2015 ingestel en word elke jaar op 30 Mei, die geboortedag van Jan H. Marais, oorhandig. Die prysgeld beloop R500 000.

Die prys is ingestel deur drie instansies wat hul bestaan grootliks te danke het aan die erflating van Marais, ’n diamantmagnaat, filantroop en taalstryder. Die instansies is Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers en die Universiteit Stellenbosch.

Die prys vir ’n lewensbydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Vorige ontvangers van die prys is onder andere prof, Hermann Giliomee (2016), prof. Jaap Steyn en prof. Jan van der Watt (2017) en prof. Christo van Rensburg en prof. Marinus Wiechers (2018).

Die storie van 'Die Helpende Hand'

In 1950 het Jan Marais vrou, Elizabeth (Bessie), die beeldhouer Coert Steynberg genader om ‘n beeld van haar man vir die kampus van die Universiteit Stellenbosch te skep.

Steynberg het “Die Helpende Hand” ontwerp en sy het dit goedgekeur, maar haar broer het haar egter afgeraai om haar toestemming te gee. Steynberg moes toe ‘n portret van Jan H. Marais gebruik as basis vir die granietbeeld wat tans op die kampus staan.

Die maket van “Die Helpende Hand” het daarna in Isa Steynberg, Coert se dogter, se besit beland. Toe sy deur die trustees van die Jan H. Maraisprys genader is, het sy goedgunstiglik ingestem om nog vyf van die beeldjies in brons te laat giet.

Prof. Hermann Giliomee was op 30 Mei 2016 die eerste ontvanger van die beeldjie.

Meer oor:  Fransjohan Pretorius
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.