Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Satawu moet opdok vir betogers se skade aan buiteklub

Die vakbond Satawu moet R103 885 opdok omdat van sy stakende lede skade aangerig het aan die Manzi Monate-buiteklub in Pretoria.

Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag ’n verstekvonnis vir dié bedrag teen die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu) toegestaan.

Die bedrag moet met rente aan die Manzi Monate Country Club Share Block (Edms) Beperk in Kameeldrift betaal word.

Satawu moet ook Manzi Monate se regskoste vir die hofgeding betaal.

Charl van der Merwe van die regsfirma Nel, Van der Merwe & Smalman in Pretoria, wat namens die klub optree, sê in hofstukke die dagvaarding is op 6 Julie 2015 op Satawu by dié se kantoor beteken.

Satawu het nie kennis gegee dat hy die eis gaan teenstaan nie. Om dié rede het die klub ’n verstekvonnis teen die vakbond gevra.

Die klub sê in sy eisbesonderhede Satawu het op 11 Augustus 2014 kennis aan die klub gegee dat die vakbond se lede wat werkers op die klubperseel is, op 14 Augustus 2014 om 06:00 begin staak.

Manzi Monate sê die stakers het egter skade aan die klub se eiendom aangerig en mense fisiek gekeer om by die perseel in en uit te gaan.

Die klub en Satawu se verteenwoordigers het toe oor die protesreëls ooreengekom om die partye se gedrag tydens die staking te reguleer.

Die ooreenkoms het uitdruklik bepaal dat die stakers se gesing, betoging, opmars en dansery op ’n ordelike wyse sal plaasvind. Dit het bepaal die betogers mag nie lede van die publiek, klante, ander werknemers en diensverskaffers keer om by die perseel in en uit te gaan nie. Daar is ook ooreengekom hulle mag geen wapens dra nie en ook nie buite die afgebakende gebied betoog nie.

Die ooreenkoms het voorts gelui hulle mag nie skade aan eiendom aanrig en beserings aan mense veroorsaak nie en hulle mag op geen manier mense intimideer, dreig of met hulle inmeng nie. Hulle mag nie uitlokkende gedrag toon teenoor ander werknemers of die klubbestuur wat nié aan die staking deelneem nie.

Manzi Monate sê die stakers het egter skade aan die klub se eiendom aangerig en mense fisiek gekeer om by die perseel in en uit te gaan. Hulle het nie-stakers en die bestuur geïntimideer en gedreig en buite die afgebakende gebied betoog. Dít het ’n stoornis vir die onderneming veroorsaak.

Hulle het ook “wapens en/of bedreigende voorwerpe” gedra.

Skade is aan die besproeiingstelsel en ’n maatskappyvoertuig aangerig. Weens die gewelddadige optrede moes die klub bykomende stukwerkers vir die duur van die staking bekom. Bykomende veiligheidsdienste moes ook ingespan word.

Die nie-stakers, bestuur en die veiligheidspersoneel moes weens die stakers se geweld op die perseel bly, wat ekstra koste vir maaltye, drinkgoed en petrol vir vervoer meegebring het.

Meer oor:  Pretoria  |  Satawu  |  Hof  |  Skadevergoeding  |  Vakbond  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.