SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Algemeen
#Swarthond-konsert: Dana lees ’n gebed vir Anette
Dana Snyman lees ’n gebed aan sy oorlede verloofde voor op die #Swarthond-konsert.Foto: Netwerk24

Dana Snyman sou Saterdagaand geglimlag het as sy vriende vir hom as bruidegom gesing het hy lyk so baie soos “Tant Koek se hoenderhaan” of “How the hell can we believe you” uitgebasuin het.

Snyman sou Saterdag met Anette Roberts getrou het.

In plaas van bruilof hou, het hy en sy vriende die #Swarthond-konsert op sy tuisdorp, Jacobsbaai, gereël en 500 gratis kaartjies uitgedeel.

Roberts het haarself vroeër vanjaar op Snyman se verjaarsdag om die lewe gebring. Sy het aan depressie gely.

Op die vooraand van die konsert, skryf Snyman op Facebook, het ’n spontane “rampaartie by sy huis uitgebreek” toe sy vriende kom kuier het.

Sy goeie vriend Johan Bakkes was die seremoniemeester op die konsert.

Twee van Roberts se kinders, Lumien Orton en AJ Lausberg, was teenwoordig.

Petrus Kuhne, wat die egpaar sou trou, het ’n aangrypende skets van hoe depressie soos ’n slang in wesens seil, voorgelees. Hy het dit aan Anette en haar pa, Jan Schoeman, wat ook sy lewe geneem het, opgedra.

Die sangers Stefan Burger, Willem van de Venter en Les Jovan het opgetree, voor Snyman oor sy versplinterde drome van sy troudag gepraat het.

My lief, ek het amper jou trourok gesien. Jou wou my nuuskierig maak, maar as ek wou sien, het jy gekeer ... Jy sou mooi gewees het, my lief, vanaand, hier. Jy was binne en buite mooi.

“My lief, ek het amper jou trourok gesien. Jou wou my nuuskierig maak, maar as ek wou sien, het jy gekeer. Ek het geweet jou ruiker sou wit rose gewees het. Jy sou mooi gewees het, my lief, vanaand, hier. Jy was binne en buite mooi.

“Miskien was ons troue ’n poging om kinderlike onskuld terug te win.

“Maar die fo**en donker ding het dinge tussen ons bedonder. Dit het jou kwaad en magteloos gemaak.

“Ek en jy sou gestraal het, my lief.

“Jou wonderlike kinders se goeie opvoeding is jou grootste getuigskrif en prestasie.”

In ’n gebed wat hy aan haar opgedra het, beskryf Snyman hoe hy ’n skip van ’n bruin Valiant Regal-motor sou koop sodat hulle deur die Karoo kon ry. Die binneland in.

Op Beaufort-Wes sou hulle ’n pastei en Coke Zero koop.

Sy sou haar lekker padkos oopmaak, die beste toebroodjies, worsies en perfekte hardgekookte eiers.

Dan sou hulle by Gertjie (die sanger en digter Gert Vlok Nel) stop by sy nerfaf huis, en saamnooi om na nog beautiful woorde te soek.

Hulle drie sou vir die Drie Susters gewaai en op Victoria-Wes groete vir Mannetjies Roux gestuur het.

Snyman sou sy oorlede pa op ’n lang tiekie bel en ’n afspraak maak om op De Aar-stasie op ’n hortjiesbank te ontmoet.

Hulle vier sou kyk hoe die treine geshunt word.

“Ons sou verder ry, dieper die binneland in. Verby verbryselde mense, lewendes en dooies, verby Kimberley ry, aanhou ry en iewers anderkant oom Jan se graf tot by geborgenheid probeer ry. Amen.”

Gian Groen het die liedjie “Alles gaan OK wees” gesing, waarna Nel sy “beautiful woorde” gesing het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.