Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Twee platforms gesluit ná trein in Kaapstad brand
’n Skermgreep van ’n video wat wys hoe ’n Metrorail-trein op platform ses in die Kaapstadse treinstasie brand. Dit is nog nie seker hoe die brand ontstaan het nie. Foto: Twitter / Earl-Ryan September

Twee platforms op Kaapstad se treinstasie moes Dinsdag gesluit word nadat ’n Metrorail-trein aan die brand geraak het.

Riana Scott, ’n Metrorail-woordvoerder, sê die trein was reeds aan die brand toe dit om 19:40 ingetrek het by platform ses. Brandstigting word vermoed in dié jongste voorval.

Die brand het versprei en drie treinwaens, ongeveer in die middel van die trein, is beskadig.

Niemand is beseer tydens die voorval nie, het Jermaine Carelse, ’n woordvoerder vir die brandweer in Kaapstad, bevestig.

Scott sê die treinpersoneel en -drywers is ook ongedeerd.

’n Skadebepaling sal eers later gedoen word nadat die voorval deeglik ondersoek is, sê Scott.

“Die brandweer was in staat om die brand teen 20:40 in bedwang te kry,” sê Scott.

Drie treinwaens van ’n Metrorail-trein het Dinsdagaand aan die brand geraak by die Kaapstadse treinstasie. Foto: Verskaf

Sy het bevestig dat treine, wat geskeduleer was om aan te kom en vertrek van platform vyf en ses, herlei sou word.

Nog vyf platforms – 12, 13 en 16 tot 19 – is ook steeds gesluit weens skade wat tydens ’n vorige brand aangerig is.

In April is twee treinstelle verwoes tydens ’n brand by die stasie en skade is beraam op R33 miljoen.

Volgens Prasa is 300 m se kabels ook in die brand beskadig, wat noodsaaklik is om die beheer van treine te outomatiseer.

Ná ’n onlangse parlementêre vraag deur die DA het Blade Nzimande, minister van vervoer, te kenne gegee dat 24 treine sedert Oktober verlede jaar gevandaliseer is. Sedert 2015 is 174 treinwaens net in Kaapstad met ’n totale waarde van R528 miljoen vernietig. Die stad se owerhede is steeds in die duister oor wie verantwoordelik is vir die brandstigting op Metrorail se treinwaens.

Metrorail het ’n beroep gedoen op die publiek om na vore te kom as hulle inligting het.

Meer oor:  Metrorail  |  Treinstasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.