Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Twitter gis kliphard oor kabinet

Twittergebruikers het Woensdagaand druk bespiegel en gegis oor wie die nuwe besems in pres. Cyril Ramaphosa se kabinet sou wees. Daar is ook heerlik die draak gesteek met die vorige bedeling toe lyste en name gereeld voor aankondigings gelek is.

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA, het sommer vroegaand ’n foto getwiet van ’n man wat na ’n kabinet vol boeke staar. Teen die muur is ’n geraamde sweep en op die tafel, langs ’n oopgeslane skootrekenaar, ’n glas met iets wat soos whiskey lyk.

“Ek is in my kantoor en hou die kabinet dop vir enige verrassings. Dis stil tot dusver,” merk Steenhuisen by die foto op.

“Prav-in or Prav-out,” was die woordspeling wat ene Charles Rembe getwiet het oor die moontlike weglating van Pravin Gordhan, wat toe inderdaad weer minister van openbare ondernemings is.

Lawrence Dube (@DubeLawrence) het gemeen

het gemeen Gordhan moet eerder as bestuurshoof van Eskom aangestel word. “Eskom is die grootste bedreiging vir die ekonomie, nie waar nie?” merk hy op.
Tito Mboweni, wat die land se boeke as minister van finansies moet laat klop, was ook in Twitter-gebruikers se visier.

By ’n foto van ’n skaap wat nek uitsteek bo ’n trop, skryf @TitoMzamo, “Tito Mboweni, ek sien net jou naam daar op die sjef se lys.”

Mboweni het op 11 Mei, terwyl Ramaphosa die amptelike uitslag van die verkiesing verwelkom het, in ’n reeks twiets verduidelik hoe hy hoenderbredie maak.
Woensdag het sy twiets oor nog ’n bredie weer opslae gemaak.

Terwyl die groot wag voortgeduur het, het talle twiets die lig gesien oor die feit dat geen lys name voor die aankondiging uitgelek het nie.

“Waar is ANN7 wanneer jy hulle nodig het? Die Guptas sou teen nou al die nuus gelek het,” het ene Thembinkosi Buthelezi grappenderwys opgemerk.
Julius Malema, wat dikwels in die verlede akkurate voorspellings gemaak het, het ook onder skoot gekom.

“Juju mis sekerlik sy vriende die Guptas,” het ene Claude A Kuscus getwiet.

Toe aangekondig word dat die wag met ’n halfuur uitgerek is, het Twittergebruikers ook van hulle laat hoor.

@TsakkyM het ’n foto van ’n laggende oudpres. Jacob Zuma geplaas met die inskrywing: “Ek was dol op die manier waarop uBaba (Zuma) alles (in die nag) herskommel het. Teen die tyd dat jy opstaan, was alles verby.”
Itumeleng Nkoane, wat as @TUMI02GP twiet, het egter mense daaraan herinner dat Ramaphosa voorheen van ’n “nuwe daeraad” gepraat het. “Die kabinet-aankondiging kan daarom om 05:00 wees.”
Teen 21:15 was die president egter klaar gepraat en het Twittergebruikers lustig voortgegaan om die nuwe kabinet te ontleed en die draak te steek met dié wat nie die paal gehaal het nie onder die hutsmerk #CabinetAnnouncement, wat in ’n stadium meer as 46 6000 twiets geregistreer het.. 
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.