Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Droogte
Oesskade kan erg wees as dit nie gou in W-Kaap reën
Die Theewaterskloofdam in die Wes-Kaap lyk byna soos ’n woestyn van die noordwestelike kant af in ’n foto wat verlede maand geneem is. Dié dam se watervlak staan vandeesweek op 23,14% en Agri Wes-Kaap sê boere in die opvangsgebied is bekommerd dat tot ’n derde van hul oes kan skade ly indien dit nie binnekort reën nie. Foto: Verskaf

Boere wat deur die Theewaterskloofdam in die Wes-Kaap bedien word, is bekommerd dat tot ’n derde van oesvolumes skade kan ly as dit nie vandeesmaand reën nie.

Agri Wes-Kaap het Vrydag in ’n verklaring gesê veral produsente van vrugte wat later in die seisoen geoes word, is bekommerd oor skade as dit nie teen die einde vandeesmaand in die opvangsgebied reën nie.

“Slegs sowat die helfte van die oes is afgehandel en volgende jaar se oes word ook bedreig omdat baie min, indien enige na-oes water, beskikbaar is.”

Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die toestand van waterbronne is besig om in ’n krisis te ontaard “met langtermyngevolge vir landbou in die streek”.

Boere wat deur die Theewaterskloofdam bedien word, se watergebruik is reeds met 30% ingekort.

Agri Wes-Kaap het gewaarsku dat met die huidige damvlak wat onder 25% staan, sal water binnekort nie meer deur die tonnelstelsel aan die waternetwerk en die Skiereiland verskaf kan word nie.

“As dit dié winter weer minder as gemiddeld reën, kan dit rampspoedige gevolge vir die landbousektor in die gebied inhou.”

Intussen is die damvlakke vir vandeesweek bekend gemaak en die gesamentlike vlak van die ses hoofdamme wat aan Kaapstad water verskaf, staan op 28,04%.

Dit was verlede week nog 29,45% en het verlede jaar dié tyd op 35% gestaan.

Kaapstad se water kom hoofsaaklik van die Wemmershoekdam, die Voëlvleidam, die Steenbras- en Benede-Steenbrasdam, die Bergrivierdam en die Theewaterskloofdam.

Die gemiddelde damvlakke in die Wes-Kaap was teen Maandag 26,94% en het verlede week op 28,34% gestaan.

Die Clanwilliamdam se vlak is 23,07% en was verlede week 26,85%.

Vandeesweek is dit ook Nasionale Waterweek van 20 tot 26 Maart. Hiermee probeer die departement van water en sanitasie jaarlikse bewustheid oor die waarde van water en die volhoubare bestuur daarvan skep.

Luidens Agri Wes-Kaap se verklaring het boere in die Theewaterskloofdam se opvangsgebied gesê die staat sal dringend geld beskikbaar moet stel en maatreëls in werking stel sit om die water aan te vul.

Dit is hoe die Theewaterskloofdam op 27 Julie 2016 gelyk het toe ’n leser dit uit ’n helikopter afgeneem het. Vandeesweek is die dam 23,14% vol en verlede jaar dié tyd het dit op 37,29% gestaan. Foto: Verskaf

Dit is omdat baie van die water uit die opvangsgebied aan die Skiereiland en groter Kaapse Metropool verskaf word.

Volgens Agri Wes-Kaap kan dit gedoen word sonder om die dam fisiek te vergroot en moet boere ook toegelaat word om stoorkapasiteit vir krisistye te skep.

“Streng regulasies met betrekking tot die vergroting van damme op plase is teenproduktief omdat burokratiese prosesse jare vat en omgewingsimpakstudies duur en tydrowend is.”

Die staat moes ook in die “laaste droër maande”

bolope, waterkanale en oewers van indringerplante skoongemaak het, nou moet boere “duisende rande uit hul eie sak” daarvoor opdok.

Vandeesweek se damvlakke:

Voëlvleidam: 27,13%, verlede week 29,68%;

Wemmershoekdam: 36,19%, verlede week 36,42%;

Bergrivierdam: 36,20%, verlede week 37,63%;

Theewaterskloofdam: 23,14%, verlede week 24,37%;

Steenbrasdam: 55,85%, verlede week 55,97%;

Benede-Steenbrasdam: 30,89%, verlede week 32,67%

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Theewaterskloofdam  |  Reën  |  Skade  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.