Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
3 in hof ná oom meisie ‘verkoop’

Die man wat glo sy 16-jarige susterskind aan sy vriend (61) verkoop het en die meisie gedwing het om met dié man te trou, het Maandag in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth ingeskuif.

Die meisie se oom, die 61-jarige man wat met haar in die huwelik getree het, asook ’n familievriend word aangekla van mensehandel en dade wat gelei het tot die gedwonge huwelik.

Die man wat met die meisie getrou het, word ook aangekla van verkragting.

Die beskuldigdes se name mag nie genoem word nie om die meisie se identiteit te beskerm. Hulle het ook nog nie gepleit op die aanklagte teen hulle nie.

Luidens die klagstaat is die slagoffer verstandelik gestremd en het sy die verstandelike vermoë van ’n tienjarige.

Haar ma is in Junie 2012 dood en sy moes toe by haar oom in KwaZulu-Natal gaan woon.

In 2015 is daar besluit dat die slagoffer by ’n kennis (wat nie ’n beskuldigde is nie) in Bizana moet gaan woon. Sy het in Bizana begin skoolgaan.

Die man wat met die meisie getrou het, word ook aangekla van verkragting.

Die beskuldigde wat met die meisie getrou het, het in 2016 besluit hy wil haar eggenoot wees. Hy het lobola betaal aan haar oom, wat haar wettige voog was. Die familievriend wat aangekla word, was ook deel van die gesprekke.

In November 2016 het die meisie se oom en die familievriend reëlings getref sodat sy Port Elizabeth toe kon gaan om haar voorgenome eggenoot te ontmoet.

In Port Elizabeth aangekom het die slagoffer se voorgenome eggenoot haar na sy huis in Kuyga in Groenbossies geneem.

Hier het die man die slagoffer beveel om haar klere uit te trek, want hy wou seksuele omgang met haar hê.

Toe die slagoffer weier, het hy haar gewurg en haar gedwing om met hom seks te hê, lui die klagstaat.

Hy het ook glo vir die slagoffer gesê hy het lobola vir haar betaal en daarom moet sy sy opdragte uitvoer.

Die man word daarvan aangekla dat hy vanaf November 2016 tot Januarie 2017, en ook in April 2017 sonder die meisie se toestemming seksuele omgang met haar gehad het.

Die staat beweer die man het die slagoffer met sy gordel en sy hande geslaan as sy gedurende die seks gehuil het.

Sy is nie toegelaat om buite die huis te sit nie en die man het voorgeskryf wat sy moet aantrek en met wie sy kon praat.

Die polisie het die man op 24 April 2017 in hegtenis geneem. Iemand in die gemeenskap het die polisie van die situasie in kennis gestel.

Die saak duur voort. Adv. Zelda Swanepoel is die staatsaanklaer.

Al drie beskuldigdes se borgtog is verleng.

Meer oor:  Lobola  |  Mensehandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.