Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Blompotmoord: Hy't al geweet toe die polisie kom klop

“Vir tannie Hilary se moord?”

Dit was glo Reghard Groenewald se spontane reaksie toe die polisie op 23 Mei 2017 by sy huis in Welgemoed in Kaapstad opgedaag het met ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming en om die huis te deursoek.

Kapt. Werner Bothma van die Valke het Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad getuig dat Groenewald baie senuweeagtig voorgekom het.

Bothma was deel van die span wat die moord op Hilary van Rooyen (52) ondersoek het en Groenewald die betrokke dag in hegtenis geneem het.

Hy het getuig dat hy en lede van die ondersoekspan die dag ná Van Rooyen se begrafnis met haar gesinslede in hul huis gepraat het.

Luke, haar jongste seun, het vertel van ’n vreemde SMS wat hy op Maandag 8 Mei – die dag voor sy ma vermoor is – van sy ma gekry het, waarin sy sê dat sy baie verbaas was toe Groenewald by haar kom kuier het.

Kapt. Werner Bothma, lid van die ondersoekspan, in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Adrian de Kock

Na aanleiding van hul gesprek het die polisie beeldmateriaal van die winkel oorkant die Van Rooyens se huis in Eversdal bekom.

Luke het aan die polisie bevestig dat die swart MG in die beeldmateriaal aan Groenewald se pa behoort.

Bothma het die ondersoekbeampte aangeraai om ’n deursoekingslasbrief en ’n lasbrief vir Groenewald se inhegtenisneming in die landdros in Bellville te bekom.

Bothma en een ander beampte is op 23 Mei met die lasbriewe na Groenewald se huis.

“Ons het aan die deur geklop en ’n man met ’n baard het die deur oopgemaak. Ek kan vandag bevestig dit was Groenewald,” het Bothma getuig.

Volgens Bothma het Groenewald homself voorgestel.

Hulle het aan hom verduidelik dat hulle daar is om die huis te deursoek en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming het.

Groenewald het toe spontaan die afleiding gemaak dat dit in verband met moord op Van Rooyen is, het Bothma getuig.

Groenewald is weer oor sy regte ingelig voordat sy huis deursoek is.

Lt.kol. Mike Barkhuizen, ook verbonde aan die Valke, het Groenewald se verklaring op 23 Mei afgeneem nadat hy in hegtenis geneem is. Die video-opname van die bekentenis is Woensdag in die hof gespeel.

Barkhuizen het getuig dat Groenewald senuweeagtig voorgekom het.

Adv. Ross McKernan, Groenewald se regsverteenwoordiger, wou weet hoe hy dit weet. Barkhuizen het geantwoord dat sy voorkoms en die manier waarop hy sy hande deur sy hare getrek het, vir hom ’n aanduiding was dat hy angstig is.

McKernan het gevra of Barkhuizen die trane in sy kliënt se oë gesien het. Barkhuizen het gesê hy het nie.

Later het McKernan vir Barkhuizen gevra of daar enige beskrywing in die bekentenis was wat vir hom (Barkhuizen) ’n aanduiding was dat Groenewald Van Rooyen wou vermoor.

Barkhuizen het geantwoord en gesê daar was nie.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Reghard Groenewald
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.