Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Hulle sou gehang wees,’ sê skoolhoof oor Coligny-2

Emosionele tonele het hulle Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, afgespeel toe Phillip Schutte (34) en Pieter Doorewaard (28) se familielede hulle omhels het.

Hul vonnisverrigtinge het Maandag begin.

Pieter Doorewaard omhels sy suster, Monja, in die hooggeregshof in Mmabatho, terwyl sy meisie, Elize Van den Berg (met die blou rok) toekyk. Foto: Susan Cilliers

Regter Ronald Hendricks het Schutte en Doorewaard in Oktober verlede jaar skuldig bevind aan die moord op die 16-jarige Matlhomola Moshoeu in April 2017.

Hendricks het bevind hulle het saam opgetree toe Schutte hom van ’n bakkie op ’n plaas naby Coligny afgegooi het. Die twee mans is ook skuldig bevind aan die ontvoering en intimidasie van ’n ooggetuie, Bonakele Pakisi.

Pakisi het glo intussen teenoor ’n predikant en prokureur erken hy het in die hof gejok en gesê dat hy nooit op die toneel was nie. Nou sê hy egter hy is omgekoop om te sê hy het gejok.

Kallie Kriel, hoof van AfriForum, wat ook by die hof was, sê die organisasie staan Schutte en Doorewaard by om borgtog te probeer kry hangende die appèlverrigtinge.

“Ons wil ook toesien dat Pakisi tot verantwoording geroep word.”

Die staat het Stanley Mnyakana, ’n skoolhoof en gemeenskapsleier in Coligny, Maandag eerste geroep om ter strafverswaring te getuig.

“Dié twee mans se familielede kan hulle vasdruk, maar Matlhomola se familie sal dit nooit weer kan doen nie,” het hy getuig.

Ek was bang iemand word geskiet. Wit mense het ook leuens versprei dat die ANC en SAKP wit mense uit die dorp gaan verwyder. Sommige mense was so bang dat hulle padgegee het.

Volgens Mnyakana het hy die Sondag ná Matlhomola se dood daarvan gehoor.

“Die gemeenskap was baie hartseer. Toe ek hoor dit het al Donderdag gebeur en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie, het ek die polisie gekontak. Mense het hulself reeds begin mobiliseer en gesê as niemand gevang word nie, sal hulle die dorp platvee.”

Ontevrede gemeenskapslede het kinders Maandagoggend uit die plaaslike townshipskole gaan haal. Mnyakana het getuig dié mobiliseerders, onder wie ANC-lede, het by sy laerskool in die township opgedaag en wou al die kinders vat om te gaan betoog.

“Ons het gevra of hulle nie net asseblief die kleiner kinders wil los nie.”

Adv. Pieter Smit, Schutte se regsverteenwoordiger, het agterna in kruisondervraging aan Mnyakana gevra of dit dan maar reg was dat die ouer kinders gegaan het. Mnyakana het gesê indien ’n mens in ’n township woon, sal jy weet dat ’n skoolhoof in so ’n oproersituasie nie ’n keuse het nie. Hy was gelukkig dat hulle die jonger kinders toe gelos het, het Mnyakana getuig.

Phillip Schutte by sy vrou, Ingelize (links), en ‘n ander familielid in die hooggeregshof in Mmabatho. Foto: Susan Cilliers

Die leerlinge wat glo uit die skole gedwing is, is volgens hom toe “vreedsaam” na die polisiekantoor om te hoor of iemand al vasgetrek is. Toe hulle hoor niemand is nog in hegtenis geneem nie, is hulle die dorp in en het hulle begin plunder. Boere het met hul bakkies die dorp ingery en gemobiliseer.

“Ek het gesien hier kom moeilikheid,” het Mnyakana getuig.

Ten minste vier wit mense se huise is aan die brand gesteek, winkels is geplunder en ook buitelanders se goedere wat hulle verkoop, is gesteel.

“Ek was bang iemand word geskiet. Wit mense het ook leuens versprei dat die ANC en SAKP wit mense uit die dorp gaan verwyder. Sommige mense was so bang dat hulle padgegee het.”

Mnyankana het in sy getuienis gesê Doorewaard en Schutte sou in die vorige bedeling gehang geword het en dat hulle lewenslange tronkstraf opgelê moet word.

Regter Hendricks wou by hom weet of hy ’n kundige is met opleiding in strafoplegging.

“Nee,” het Mnyankana geantwoord.

Hy het getuig die situasie in Coligny is nou kalmer, maar dat dit enige tyd kan verander afhangende van wat met die hofsaak gebeur.

Die staat beoog om nog twee getuies ter strafverswaring te roep. Doorewaard en Schutte se onderskeie regsverteenwoordigers sal daarna getuienis ter versagting van straf aanbied.

Die vonnisverrigtinge sal na verwagting eers later vandeesweek afgehandel wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.