Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Klagte teen Vrystaatse LUR teruggetrek

Bedrog- en korrupsieklagte teen Thembeni Nxangisa, wat Dinsdag as Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Kogta) ingehuldig is, is reeds geruime tyd gelede teruggetrek.

Thembeni Nxangisa (regs) onderneem dat hy die Grondwet sal eerbiedig toe hy Dinsdag deur regterpresident Cagney Musi as nuwe LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Kogta) ingehuldig is.Foto: Mlungisi Louw

So het ’n amptenaar van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) Woensdag aan Netwerk24 gesê.

Die amptenaar wou nie hê sy naam moet in die media verskyn nie. Op die vraag waarom die saak teruggetrek is, het hy gesê “dit hou verband met die aard of die soort saak. Ek kan nie die redes verskaf nie”.

Daar is reeds in 2014 berig David Serame (38), ’n direkteur van maatskappye in Bloemfontein wat glo weggooidoeke van meer as R1 miljoen aan die destydse Mangaung-munisipaliteit verkoop het sonder om dit te lewer, het in die streekhof in Bloemfontein op 304 aanklagte van korrupsie en net soveel aanklagte van bedrog verskyn.

Nxangisa en Shaheed Senoko, wat albei gewese amptenare was, en twee amptenare van die Mangaung-metro, Jeffrey Motsamai en Bopane Tau, het saam met Serame op aanklagte van korrupsie en bedrog verskyn.

Die amptenaar sê die saak teen Nxangisa is intussen teruggetrek: “Dit kon ’n jaar gelede of in November verlede jaar gewees het.”

Altesaam R8,4 miljoen se belastingbetalersgeld was by al die aanklagte betrokke.

Hulle sou die amptenare omkoopgeld of voordele aangebied het om die transaksies deur die boeke te laat gaan.

Luidens die klagstaat is 304 tenders van onder R30 000 elk vir onder meer babadoeke, doeke vir volwassenes, materiaal vir jeugontwikkeling (R2 miljoen), skooluniforms (R1,1 miljoen), promosiemateriaal (R840 000) en vir die vee van strate (R870 000) tussen 2007 en 2009 aan Serame se beslote korporasies toegeken. Die staat het aangevoer die geld is daarvoor betaal, maar die goedere of dienste is nie gelewer nie.

Nie al die beskuldigdes staan tereg op al die aanklagte nie.

Die staat het aangevoer Serame en sy beslote korporasies,

Iceberg Trading 542, Snowline Trading 582, Ka Rona Trading 536 en Senthati Trading, het omkoopgeld betaal.

Thembeni Nxangisa, wat vandeesweek ingehuldig is as die nuwe Vrystaatse LUR vir die departement samewerkende regering en tradisionele sake (Kogta).Foto: Mlungisi Louw

Hulle sou die amptenare omkoopgeld of voordele aangebied het om die transaksies deur die boeke te laat gaan.

Die amptenare is ook van korrupsie aangekla omdat hulle voordele ontvang het en geweet het die goedere sou nie gelewer word nie.

Serame en sy beslote korporasies sou ook belastingbedrog en die oortreding van belastingwette gepleeg het.

Die saak het weer Dinsdagoggend voor die hof gekom, maar is tot ’n latere datum uitgestel.

Nxangisa se naam het nog as “beskuldigde nr. 2” op die hofdossier verskyn en op die hofrol voorgekom.

Nxangisa het nie Woensdag gereageer op versoeke vir kommentaar nie.

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het by navraag gesê sy het nie geweet van die klagte teen Nxangisa nie en sal ondersoek instel.

Haar woordvoerder, Tiisetso Makhele, het later die dag gesê daar is geen klagte teen Nxangisa nie.

Makhele het gesê alle lede van die wetgewer, insluitend die LUR’e, se name is sorgvuldige met die hulp van die polisie deurgegaan om seker te maak dat daar geen strafregtelike sake teen hulle is nie.

Nxangisa het vroeër as personeelhoof in die hoofsweep, wyle Samson Sefuti, se kantoor in Mangaung gewerk.

Meer oor:  Lur  |  Vrystaat  |  Klagtes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.