Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Regslui besoek moordhuis in O’hoorn

Die moordverhoor van Magdaleen (Maggie) Titus het Maandag in Oudtshoorn begin met ’n ondersoek ter plaatse by die huis by die infanterieskool, waar die lyk van haar man, stafsers. Preston Titus (47), op 2 Desember met steekwonde op ’n bed gevind is.

Daar was geen gedwonge toegang tot die huis nie.

Magdaleen Titus kom Maandag by die huis by die Infanterieskool in Oudtshoorn aan waar die lyk van haar man, stafsers. Preston Titus, op 2 Desember 2017 gevind is. Foto: Jackie Kruger

Titus (42), ’n ANC-raadslid van Oudtshoorn, en haar medebeskuldigdes, Justice Mooi (30), Natasha Stuurman (38) en Masimthembe January (23), word van moord met voorbedagte rade en regsverydeling aangekla.

Die staat het gewaarsku dat hulle lewenslange gevangenisstraf opgelê kan word indien hulle aan die moord skuldig bevind word. Selfoonverslae is ook Maandag as bewysstukke by die hof ingedien.

Al vier het Maandag in die rondgaande hooggeregshof in Oudtshoorn aangedui dat hulle op die aanklagte teen hulle skuld ontken.

In hierdie stadium wil hulle nie ’n pleitverduideliking gee nie en hul swygreg uitoefen, het hul regsverteenwoordigers laat gesê.

Nog ’n beskuldigde, Sixabiso Klip (23), Titus se voormalige motorbestuurder, is reeds op 19 Januarie 2018 in die streekhof in Oudtshoorn tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

In Klip se pleitooreenkoms het hy Titus as die “baasbrein” van die moord op haar man uitgewys.

Sy het na bewering haar man se vermeende moordenaars R30 000 elk aangebied.

Vroeër is berig dat Klip in sy pleitooreenkoms gesê het dat Stuurman van die moordplanne bewus was.

Die hof was Maandag stampvol en die vermoorde Preston Titus se familielede het T-hemde met sy gesig en die woorde “Justice for Preston Titus” daarop aangehad.

Familielede van stafsers. Preston Titus Maandag buite die huis by die Infanterieskool in Oudtshoorn, waar hy vermoor is. Foto: Jackie Kruger

“Ons hoop die waarheid sal uitkom,” het van hulle buite die hofsaal gesê.

Die ondersoek ter plaatse het in die snikhete plaasgevind. Preston Titus se familielede het buite die huis gewag en opgemerk hoe welig die tuin eens was.

Magdaleen Titus, geklee in ’n pienk baadjie en ’n gestreepte broek, het ’n sneesdoekie teen haar gesig gedruk kort nadat sy uit die motor geklim het.

Regter N.P. Boqwana, adv. Christhénus van der Vijver, die staatsaanklaer en die ander regsverteenwoordigers en beskuldigdes het die huis binnegegaan.

Die hofverrigtinge is kort ná die besoek aan die huis tot Dinsdag verdaag.

January, Stuurman en Titus se borgtog is Maandag verleng. Mooi, wat deurentyd geboei was, is vroeër borgtog geweier en bly in aanhouding.

Die huis by die Infanterieskool in Oudtshoorn waar die lyk van stafsers. Preston Titus op 2 Desember 2017 gevind is. Foto: Jackie Kruger
Regslui is Maandag buite die huis by die Infanterieskool in Oudtshoorn waar stafsers. Preston Titus vermoor is.Foto: Jackie Kruger

Meer oor:  Preston Titus  |  Oudtshoorn  |  Moord  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.