Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
KYK: Skuldigbevinding van stropers ‘groot oorwinning’

Die skuldigbevinding van drie renosterstropers in die Oos-Kaap kan volgens die staatsaanklaer in die saak as een van die grootste suksesse teen dié onwettige bedryf in die land beskou word.

Jabulani Ndlovu (40), Forget Ndlovu (37) en Skhumbuzo Ndlovu (38) is Vrydag in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) skuldig bevind op 55 aanklagte van renosterstropery, wat onder meer behels die steel van renosterhoring, die onwettige besit van renosterhoring, die onwettige besit van skedule ses-verdowingsmiddels en die onwettige jag op ’n bedreigde spesies.

Hulle is skuldig bevind vir hul betrokkenheid by tien stropingsvoorvalle waarin 13 renosters gestroop is.

Jabulani Ndlovu (40), Forget Ndlovu (37) en Skhumbuzo Ndlovu (38) in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Makhanda. Foto: Lulama Zenzile

Adv. Buks Coetzee, staatsaanklaer, sê daar was nog nie in vorige sake ’n groep wat vir ’n “reeks moorde” op renosters skuldig bevind is nie.

Die hofsaal was Vrydag stampvol terwyl regter Jeremy Pickering sy uitspraak van 69 blaaie voorgelees het. Verskeie rolspelers van natuurbewaring in die provinsie, asook reservaateienaars, het die hofsitting bygewoon.

Die drie skuldiges is in Junie 2016 by ’n gastehuis net buite Makhanda aangekeer. Die polisie het op verskeie bewysstukke in hul kamer beslag gelê. ’n “Vars geoeste” renosterhoring van 72 cm (met ’n waarde van bykans R1 miljoen), ’n pylgeweer, M99-verdowingsmiddels, selfone, ammunisie, ’n saag en verdowingspyle is gekonfiskeer.

Met dié deurbraak het die staat gepoog om die skuldiges ook met ander voorvalle in die provinsie te verbind.

Adv. Terry Price SC het met sy slotbetoog vir Pickering gevra om sy uitspraak in die binneverhoor te heroorweeg en die bewyse wat by die gastehuis gevind is, ontoelaatbaar te verklaar. Die polisiebeamptes het die gastehuis sonder ’n lasbrief deurgesoek en Price het volgehou die polisie het genoeg tyd gehad om eers ’n lasbrief te bekom.

In sy uitspraak het Pickering gesê hy volstaan by sy beslissing omdat die polisie geen voorafplan gehad het om op die gastehuis toe te slaan nie.

Pickering het klem gelê op die uitslag van ballistiese toetse en die getuienis van forensiese kenners wat die verdowingspyle en die pylgeweer ontleed het. Pickering het die getuienis aanvaar dat die wapen en verdowingspyle die beskuldigdes met twee tonele verbind.

Hy het ook gesê voldoende bewyse is gelewer om te aanvaar dat ’n stukkie geel verf, so groot soos ’n pinkienael, die beskuldigdes aan een van die voorvalle verbind. Die stukkie verf, wat naby die karkas van ’n gestroopte renoster gevind is, pas op die handvatsel van ’n saag wat in die mans se gastekamer gevind is.

Parke wat onder die bestuur van die provinsiale regering is, kan ook uitsien na ’n verdere R15 miljoen wat bestee sal word aan die opknapping van die sekuriteitsmaatreëls in die parke, het Mabuyane gesê.

Coetzee het vir die res van die voorvalle op omstandigheidsgetuienis staatgemaak wat die skuldiges op tonele naby Jansenville, Cradock, Graaff-Reinet en Fort Brown met selfoontoring-bewyse en die opsporingstoestelle van gehuurde motors plaas.

Pickering het Vrydag gesê hoewel die getuienis oor die selfoontoring-data nie volmaak was nie, kan dit nie verwerp word nie. Hy sê wanneer omstandigheidsgetuienis as bewyse voorgelê word, moet die beskuldigdes die voordeel van die twyfel gegee word. Maar die skuldiges het geen verduideliking gebied vir waarom hulle, wat in Port Elizabeth en George woon, toevallig elke keer op die toneel geplaas kon word waar ’n renoster gestroop is nie.

Pickering sê dit maak nie sin vir drie mans om in die Karoo rond te ry en in die middel van die nag mekaar te bel en te SMS nie, en daar kan dus geen ander afleiding gemaak word nie as dat hulle in die gebied was om die renosters te stroop.

Hy het verder gesê die feit dat hulle M99-verdowingsmiddels, wat uit Zambië bekom is, in hul besit gehad het, dui op die invloed en mag wat hulle in die renosterstroop-bedryf gehad het.

Hy het hulle gevolglik elkeen op die onderskeie 55 aanklagte teen hulle skuldig bevind.

Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, het Vrydag die uitspraak verwelkom en gesê hy glo die hofbeslissing sal as afskrikmiddel vir ander voornemende stropers dien.

Mabuyane het verder ’n beroep op inwoners wat langs reservate woon gedoen om nie vreemdelinge te huisves nie, aangesien stropers dié gemeenskappe misbruik om hul beplanning te doen.

Parke wat onder die bestuur van die provinsiale regering is, kan ook uitsien na ’n verdere R15 miljoen wat bestee sal word aan die opknapping van die sekuriteitsmaatreëls in die parke, het Mabuyane gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.