Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Man wat vrou glo doodskiet na hoër hof vir borgtog

’n Man wat glo sy vrou deur die kop en sy dogter in die voet geskiet het, het Dinsdag die hooggeregshof in Kaapstad genader om op borgtog vrygelaat te word.

Dit volg nadat die landdroshof in Bishop Lavis sy aansoek om borgtog meer as ’n jaar gelede van die hand gewys het.

Wayne Lawrence (40) van Bishop Lavis staan tereg op aanklagte van moord op Angela Marinus (35) en poging tot moord op sy dogter (16).

Wayne LawrenceFoto: Verskaf

Lawrence het op ’n Maandagaand in Desember 2017 by sy huis gewag toe Marinus in haar voertuig stilhou. Sy dogter het in die voorste passasiersitplek gesit.

Marinus is twee keer geskiet, een keer deur haar kop en die tweede skoot het haar in die nek getref. Dié koeël is dwarsdeur en het Lawrence se dogter in die voet getref.

Marinus is op die toneel dood en die dogter is na ’n nabye hospitaal geneem.

Lawrence het ná die skietvoorval van die toneel gevlug en homself eers later aan die polisie oorgegee.

Sy regsverteenwoordiger, William Booth, het Dinsdag ’n aansoek ingedien om Lawrence se borgtoguitspraak op appèl te neem.

Regter Nolwazi Boqwana het die appèlaansoek in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.

Volgens Booth het die landdroshof in Bishop Lavis gefouteer deur te bevind dat borgtog geweier moes word omdat sy kliënt ’n geneigdheid tot geweld het. Volgens Booth het sy kliënt een vorige veroordeling van sowat 20 jaar gelede.

Boqwana het egter vir Booth daarop gewys dat daar ’n beskermingsbevel teen Lawrence bekom is waarin daar melding gemaak word dat sy dogter vrees vir haar lewe en dat sy bang is vir hom (Lawrence).

Volgens Booth is daar egter geen bewyse dat Lawrence sy eie dogter of familie gedreig het nie.

Benewens dit is die vuurwapen, wat glo tydens die misdrywe gebruik is, nog nie aan die polisie oorhandig nie.

Verder het Booth aangevoer die landdros het self bevind Lawrence is nie ’n vlugrisiko nie en ’n tweede adres, ver van waar die voorval plaasgevind het, is deur die ondersoekbeampte bevestig.

Die staat, wat Booth se aansoek teengestaan het, het aangevoer die saak is baie ernstig en dat die landdros nie gefouteer het deur borgtog te weier nie.

Adv. Evadne Kortje, die staatsaanklaer, het gesê die hof is verbind tot wat op rekord is van die saak tydens die borgtogaansoek.

Volgens Kortje het die landdros bevind dat daar ’n “groot waarskynlikheid bestaan dat die beskuldigde nog misdade sal pleeg”.

Benewens dit is die vuurwapen, wat glo tydens die misdrywe gebruik is, nog nie aan die polisie oorhandig nie.

Sy het aangevoer dit sal nie in die belang van geregtigheid wees om Lawrence op borgtog vry te laat nie.

Boqwana het uitspraak voorbehou.

Meer oor:  Borgtog  |  Moord  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.