Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Mooinooi-moorde: 1 beskuldigde was glo minderjarig

Een van die beskuldigdes wat na bewering vir Joey en Anisha van Niekerk van Mooinooi in Noordwes in Desember 2017 verkrag het, was moontlik toe minderjarig.

Dit blyk uit inligting wat Maandag tydens die eerste verskyning van die vyf beskuldigdes in die moordverhoor van die Van Niekerk-egpaar in die hooggeregshof in Pretoria voorgehou is.

Koos Strydom (53), een van die vyf beskuldigdes wat teregstaan op die moord van Joey en Anisha van Niekerk, Maandag in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Koos Strydom (53), sy vrou, Mercia (22), Alex Modau (36) en twee Mosambiekse broers staan tereg op aanklagte van die ontvoering van en moord op die egpaar.

Die twee broers word ook aangekla van die verkragting van die egpaar en mag daarom ingevolge die Strafproseswet nie geïdentifiseer word voordat hulle gepleit het nie.

Sareta Joubert, regsverteenwoordiger van die jongste broer, het Maandag ’n aansoek gebring ingevolge artikel 15 van die Kinderwet. Sy het aan regter Bert Bam gesê dat hy destyds jonger as 18 en derhalwe ’n minderjarige was ten tyde van sy inhegtenisneming.

Joubert sê daar is geen dokumente ter stawing van die broer se regte ouderdom nie.

Regter Bam het dit ’n bevel van die hof gemaak dat dié broer deur ’n geneesheer ondersoek word om sy ouderdom vas te stel.

Mercia Strydom (22) is een van die vyf beskuldigdes. Foto: Deaan Vivier

Buiten vir dié vertraging, het adv. Juliet Makgwatha, staatsaanklaer, gevra die saak moet uitgestel word omdat die ondersoek nog nie afgehandel is nie.

Volgens haar is daar nog “verskeie” verklarings waarop die ondersoekbeampte wag voordat die verhoor kan begin.

Joey se familie, onder andere haar ma en suster, was moedeloos dat die saak uitgestel is. “Dit sloer nou al maande. Ons wil net hê dit moet verby wees,” het Lee Oberholzer, Joey se ma, gesê.

Regter Bam het die saak tot September uitgestel en gewaarsku dat al die partye dan moet reg wees om met die verhoor te begin.

Die staat voer aan dat Strydom die Van Niekerk-egpaar se hoewe wou koop en ’n kontrak laat opstel het. Die hoewe, naby Mooinooi, was in Anisha se naam geregistreer.

Hulle is glo ontvoer en na Strydom se plaas geneem, waar Anisha gedwing is om die koopkontrak te teken. Joey en Anisha is daarna na bewering wreedaardig aangerand en uiteindelik vermoor.

Hulle is glo aangerand om hul bankkaarte se geheime nommers aan die beskuldigdes te gee. Duisende rande is op 11 en 12 Desember uit Joey se bankrekening onttrek, terwyl R800 op 12 Desember uit Anisha s’n onttrek is.

Die staat beweer ook Joey en Anisha is deur die twee broers verkrag (voordat hulle vermoor is), waarna hul lyke verbrand is.

Hul voertuig is na bewering ook gesteel, wat later uitgebrand langs ’n pad in Magaliesburg gevind is.

Familielede van Joey en Anisha van Niekerk Maandag met ’n foto van die paartjie in die hooggeregshof in Pretoria.Foto: Deaan Vivier
Familielede van Joey van Niekerk het Maandag se hofverrigtinge bygewoon. Van links is Lourens Erasmus (broer), Kobus Payne (swaer), Rina Payne (suster), Joey Barnard (tannie) en Lee Oberholzer (ma). Foto: Deaan Vivier
Die vyf beskuldigdes wat teregstaan op die moord van Joey en Anisha van Niekerk Maandag in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Deaan Vivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.